Saturday, 1 November 2008

Rowers skiet seun toe hy, pa by huis ‘uitgaan om te kyk’

Bruno Keilin sy hospitaalbed in Pretoria nadat rowers hom in die bene geskiet het. Foto: Theana Calitz

Oct 29 2008 10:38:06:060PM - (SA)

Daniel Maluleke

“As ek nie saam met my pa buitentoe is nie, sou hulle hom vermoor het,” het ’n gewonde tienerseun van Centurion gister gesê.

Bruno Keil (15) van Pierre van Ryneveld word in die Eugène Marais-hospitaal behandel nadat hy eergisteraand by sy ouerhuis in die bene geskiet is.

Dié gr. 9-leerling van die Hoërskool Sutherland het kort voor die voorval nog vir ’n vriend wat tot 21:30 by hom gekuier het, gesê ’n nare voorgevoel torring aan hom. Hy was bang iets slegs gaan gebeur.

Net meer as ’n uur later het drie gewapende mans die heining geknip om by die Keils se erf in te kom.

Die honde het begin blaf.

Bruno en sy pa, Hans, is na buite om te gaan kyk wat aangaan. “My pa het eers die ligte in die huis aangeskakel en ’n flits gaan haal.

“Toe ons uitkom en die flitslig aanskakel, het iemand net op ons begin skiet. Ek het my pa aan die skouer gegryp en gesê ons moet teruggaan in die huis in.

“Op pad terug in die huis in het ’n skoot my in die linkerbeen getref,” het Bruno gesê. Dieselfde koeël het ook sy regterbeen getref. Die skietwond aan dié been is ernstig en hy sal ’n operasie moet ondergaan.

Die rower het daarna gevlug. Die Keils se bure het nóg twee mans gesien weghardloop.

Bruno se ma, Clara, het gesê sy is net dankbaar hulle is nie vermoor nie.

“Ons dank die Here dat hy oorleef het, maar ons lewe in vrees dat hulle dalk weer kan toeslaan. Twee van ons honde is ook vroeër vanjaar vergiftig.”

Hulle het gehoor rowers het vroeër dieselfde aand ook by ’n ander huis toegeslaan, maar misluk, het mev. Keil gesê.

Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord, het me. Eveline Hardaker, woordvoerder, bevestig.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2418153,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.