Sunday, 9 November 2008

‘Sluit die deur!’ gil boer voor sy moord

Me. Elsa van Bommel ná haar aanranding. Foto: Theana Calitz

Nov 06 2008 09:24:16:470PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Gesiene skaapboer en bouer van Boekenhoutskloof in die weste van Pretoria is eergisteraand herhaaldelik gesteek en daarna koelbloedig doodgeskiet.

Sy aanvallers het daarna sy lewensmaat met ’n staalpyp bewusteloos geslaan.

Mnr. Tertius Wehmeyer (64) het omstreeks 21:00 die aand ’n kraan buite gaan toedraai nadat hy sy tuin, waarop hy so trots was, natgelei het. Dis toe hy oorval is.

Mnr. Tjaart Smith (60), wat al 35 jaar vriende met Wehmeyer en sy lewensmaat, me. Elsa van Bommel (59), is, het gesê die aanvallers het Wehmeyer verskeie kere met ’n mes of skerp voorwerp gesteek.

“Dit wil voorkom of hy terugbeweeg het tot agter ’n groot boom toe hulle hom doodgeskiet het.

“Terwyl hy aangeval is, het hy vir Elsa geskreeu: ‘Sluit die deur!’

“Sy het opgespring en dit probeer sluit, maar die aanvallers het dit met ’n staalpyp oopgedwing en haar daarmee oor die kop, arms en rug geslaan totdat sy haar bewussyn verloor het,” het Smith gesê.

Toe Van Bommel later bykom, was die moordenaars weg. Sy het na haar ouers se huis in die agterste deel van die erf gehardloop om hulp te kry.

“Daarna het sy na die tuin gehardloop om na haar man te soek. Sy het geroep en geskreeu en hom toe later dood agter die boom aangetref,” het Smith gesê.

Van Bommel het gister hartseer en stil in haar bed gelê terwyl talle vriende en familie opgedaag het om haar te ondersteun.

“Ek het altyd gedink dié (die plaas) is ’n paradys. Ek is moeg en seer,” het sy sag gesê.

Haar seun, Antonie (37), het hartseer vertel hoe lief Wehmeyer vir sy tuin was. “Dit is verskriklik wat hier gebeur het,” het hy gesê.

Hy het gesê sy ma en Wehmeyer, na wie hy as sy pa verwys, is die afgelope 17 jaar lewensmaats.

Volgens Smith het die verdagtes ’n gat in die heining gemaak om by die erf in te kom.

Hy het gesê die polisie en die ambulans het eers sowat twee uur later opgedaag.

Die moordenaars het met selfone, juwele en ander waardevolle besittings gevlug.

Mnr. Gielie Barwise, hoof van die landelike beveiligingsdiens (LBD) in die omgewing, het gesê van 20 September het misdaad in die omgewing weer sterk begin toeneem.

“Ons moet weer die gemeenskap saamroep om die misdadigers uit te roei.”

Barwise het gesê die gemeenskap kan enige tyd wanneer hulle in nood verkeer, dag of nag, die volgende nommers bel: 012 376 1077 of 083 390 3691. Hulle kan ook die die Hercules-polisiekantoor by 012 377 4112 bel.

Insp. Wanda Olivier, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek die voorval.


Die misdaadgeteisterde gemeenskappe van Kameeldrift en Cullinan gaan vandag ’n petisie aan die Kameeldrift- en Cullinan-polisiekantore oorhandig waarin hulle hul ontevredenheid oor die voortslepende misdaad uitspreek.

Die gemeenskap kom om 11:00 oorkant die Cullinan-polisiekantoor bymekaar.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2422445,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.