Saturday, 22 November 2008

Statistieke wys daar is groot skroef los in dié vrotkol, sê navorser

Nov 21 2008 09:29:33:507PM - (SA)

Alet Rademeyer

Landelike gebiede buite Pretoria soos Bronkhorstspruit, Cullinan en Kameeldrift het die afgelope ses jaar in ’n “misdaad-vrotkol” ontaard.

Dr. Johan Burger, senior navorser aan die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS), het gister by navraag gesê uit statistieke oor ernstige misdaad sedert 2001-’02 in dié gebiede, het voorvalle ten opsigte van ernstige rooftogte en huisrooftogte gefluktueer én toegeneem.

Burger meen die situasie in die gebiede vra dat indringend gekyk word na wat aan die gang is. “Daar behoort nie net gekyk te word na die betrokkenheid van bendes nie, maar ook na wát ruimte vir misdaad skep en wat die polisie aan die saak doen. Uit die misdaadstatistieke is dit duidelik daar is ’n groot skroef los.”

Hy het verwys na die onlangse besoek van mnr. Nathi Mthethwa, minister van veiligheid en sekuriteit, aan die Kameeldrift-gemeenskap.

“Hopelik sal dit tot verskerpte optrede deur die polisie lei.”

Oor die voorval gisteroggend waartydens die huis van die Legemar-gesin van die Vaalbank-distrik, wes van Bronkhorstspruit, aangeval is, ’n nag nadat hul bure ook oorval is, meen Burger dit kan die werk van ’n bende wees.

Die Legemars se huis is sowat 2 km van die woning van dr. Duncan Prinsloo, ’n veearts van die gebied, wie se vrou, Laetitia, eergisteraand doodgeskiet en hy ernstig gewond is.

Burger meen ’n bende kry dit soms reg om vir lank in ’n gebied bedrywig te wees wat die indruk skep dat daar ’n skielike toename in misdaad is.

Volgens misdaadstatistieke was daar 128 voorvalle van ernstige rooftogte in Bronkhorstspruit in 2001-’02.

In drie jaar se tyd het dit gestyg tot 145 gevalle en in 2003-’04 was daar 166 voorvalle.

Verlede jaar tot Maart vanjaar was daar 157 gevalle.

Huisrooftogte in die gebied het in 2001-’02 op 12 gestaan en in 2006-’07 tot 28 gestyg.

’n Verdubbeling in voorvalle vir so ’n klein gebied dui op ’n ernstige probleem wat aan die ontwikkel is, meen Burger.

In die Cullinan-omgewing was daar in 2001-’02 altesame 43 voorvalle van ernstige rooftogte wat tot 89 verlede jaar gestyg het.

Ook in Kameeldrift is ’n “groot skroef los” waar ernstige rooftogte in 2001-’02 van 37 tot 75 voorvalle verlede jaar gestyg het. Huisrooftogte in dié gebied het ook met bykans 300% die afgelope ses jaar toegeneem.

Dr. Rudolph Zinn, senior dosent in forensiese en misdaadondersoeke by Unisa, het gesê navorsing kon geen politieke motiewe vir die voorvalle vind nie.

Volgens hom konsentreer misdadigers op “sagte” teikens, wat ook gebiede kan wees. Van die redes waarom dieselfde gebied oor en oor geteiken word, kan wees omdat misdadigers weet dat die reaksietyd van die polisie stadig is of dat daar min patrollies in die gebied is. Navorsing het ook bevind misdadigers gaan voort in ’n gebied as die modus operandi wat hulle gebruik het een maal suksesvol was.

Zinn meen gemeenskappe behoort maatreëls te kry om hulself te beveilig. Uit onderhoude met boewe het hulle aangedui dat hulle versigtiger is om plekke aan te val waar daar byvoorbeeld ’n geraas soos alarms en honde is.

So sê inwoners


“Ek slaap seker net twee ure elke nag. Met elke geluidjie wat ek hoor, staan ek op om te gaan kyk of iets fout is. Ons lewe in vrees hier, maar waarheen anders sal ons gaan? Ek wil nie weghardloop nie; ek is nie daai tipe nie, so ek bly maar hier.” – ’n buurman van dr. Duncan Prinsloo van Vaalbank.


“Dit voel vir ons of dit wat in Kameeldrift gebeur, nou begin oorspoel hier na ons kant toe. Die polisie kry dit nie onder beheer nie, so al wat vir ons gaan oorbly, sal wees om eie reg te gebruik. Ons kan nie aanhou om só te leef nie; hulle moor ons uit.” – mnr. Frans Prinsloo van Vaalbank.


“Ek is bitter ongelukkig oor die polisie se reaksietyd toe my ouers geskiet is. Ek het onmiddellik 10111 gebel toe ek die nuus gekry het. Dit het my byna ’n halfuur geneem om vir die mense by die skakelbord te verduidelik waar my ouers se plek is, al is dit heel eenvoudig, en die polisie het twee ure later eers daar opgedaag.” – dr. Duncan Prinsloo jr.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2430750,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.