Monday, 10 November 2008

‘Toeskouer’ steek atleet met mes in rug

Nov 10 2008 07:34:50:530AM - (SA)

Riëtte Olivier

Despatch. – 'n Marathonatleet sal van voor af moet leer loop nadat "toeskouers" by 'n wedloop haar Saterdag drie keer met 'n mes in die rug gesteek het.

“My bene het dadelik lam geraak,” het mev. Theresa Matthysen (42) van Despatch gister in die hospitaal gesê. “Toe ek val, het hulle my skoene van my voete en my polshorlosie geroof.”

Die voorval het in die Walmer-township gebeur waar Matthysen haar deel van die aflos in die Baai-tot-Baai-wedloop tussen Jeffreysbaai en Port Elizabeth moes voltooi. Atlete, individueel en in aflosse, het oor 50 km en 100 km teen die toeristebus Lady Elizabeth meegeding.

Matthysen het gesê “toeskouers” het in die pad gestaan.

“Een het my om die nek gryp. Ek het ’n verskriklike pyn in my rug gevoel. Toe sien ek die bebloede mes in die een se hand.”

Die mans het haar beroof en die township in gevlug. Kort daarna het twee ander deelnemers, wat hul deel van die aflos voltooi het, verbygery en Matthysen in die pad gesien lê.

’n Rugspesialis het vasgestel ’n stuk van een van haar rugwerwels het afgesplinter. “Die dokter het gesê dit is nie lewensgevaarlik nie. Hy wil dus nie opereer nie,” het Matthysen gesê.

Van haar rugsenuwees is ook beskadig. Teen gistermiddag het sy nog geen gevoel in haar linkerbeen gehad nie.

“Die dokter het gesê ek sal van voor af moet leer loop, maar ten minste leef ek nog,” het sy gesê.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2423671,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.