Tuesday, 25 November 2008

Tuinier vas weens moord op vrou

Buks Viljoen

’n 43-jarige man wat jare lank vir me. Daphné Wilkes in Witbank gewerk het, is weens haar moord in hegtenis geneem.

Hy was gister besig om in ’n tuin in die woonbuurt Rynorif te werk en het glo ’n hemp met bloedspatsels daarop aangehad toe lede van die polisie se misdaadvoorkomingseenheid hom gearresteer het.

Wilkes (65) se lyk is verlede Maandag in die badkamer van haar huis in Peridotstraat, Ben Fleur, gevind.

Sy is erg aangerand en met haar eie kombuismes gesteek.

Die polisie het aanvanklik vermoed Wilkes het net vir die betrokke dag ’n tuinwerker van die straat af gehuur, het kapt. Eddie Hall, polisiewoordvoerder, gesê.

“Haar eie tuinier het aanvanklik aan ons gesê hy was die betrokke dag siek. Ons het egter vasgestel hy was wel self by die huis.”

Daar is ook ’n bloedsmeersel teen een van die huismure gekry met vingerafdrukke wat glo met die verdagte s’n ooreenstem.

Hall het gesê die hemp gaan vir forensiese ontleding gestuur word om vas te stel of die bloedspatsels dié van Wilkes is. Die verdagte sal waarskynlik môre in die hof verskyn, het hy gesê.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2431924,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.