Tuesday, 4 November 2008

Verkragte kind (16), gesin vertel van aanval in huis

01/11/2008 21:54 - (SA)

Marthinus van Vuuren

Kameeldrift

Gebede was ’n desperate pa se enigste vorm van verdediging toe vier gewapende rowers hom en sy gesin Dinsdag in die vroeë oggendure in hul huis in Kameeldrift, in die noordooste van Pretoria, geterroriseer en sy 16-jarige dogter verkrag het.

Mnr. Johannes Swart*, sy vrou, Marie*, seun, Gerhard* (15), en dogters, Helene* (16) en Rentia* (7), is omstreeks 03:30 deur die rowers oorval.

Die gesin is van verskeie artikels beroof, maar dit is ’n bysaak, het die ontstelde ouerpaar Donderdag aan Rapport gesê.

“Al wat hulle eintlik gesteel het, is Helene se onskuld.”

Helene, wat bereid was om saam met haar ouers oor dié nagmerrie met Rapport te gesels, is soms steeds te geskok om te praat oor die oggend toe sy verkrag is.

Drie van die rowers het haar ouers, broer en sussie met vuurwapens aangehou terwyl die vierde rower haar kamer binnegekom, haar vasgebind en ook met ’n vuurwapen gedreig het.

“Hy was baie rustig, maar het met die rewolwer gedreig en gesê hy gaan skiet. Hy het gesê hy gaan my pa ook skiet,” vertel Helene.

In die kamer bo Helene het die rowers ook haar pa gedreig.

“Ek het hardop begin bid en die Here gevra dat hy hierdie mense se koppe draai,” vertel mnr. Swart

“Dit is toe ek Helene hoor eina sê. Ek het wéér begin bid.”

Helene vertel sy was deurmekaar toe die verkragting uiteindelik verby was.

Haar verkragter het haar toe na die kamer geneem waar die res van die gesin aangehou is.

Sy kon vasstel dat die rowers haar kleinsus nie vasgebind het nie.

“Toe ek besef hulle is weg, het ek vir Rentia gesê sy moet ’n skêr gaan haal om ons los te sny.”

Twee dae ná die aanval was Helene soms te naar om te eet. Dit is die anti-retrovirale medisyne wat haar só laat voel.

“En ek moet dit vir drie maande gebruik.”

Mev. Swart vertel haar seun sukkel om sy woede in toom te hou.

* Skuilname

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2419669,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.