Monday, 24 November 2008

Voor sy huis doodgeskiet

Nov 24 2008 08:08:10:710AM - (SA)

Jackie Pienaar-Brink

'n Man van die Strand is Saterdagaand by sy motor voor sy huis doodgeskiet in wat moontlik 'n mislukte kapingspoging was.

Mnr. Frans Schumann (58) is in die straat voor sy huis in Van der Stel neergevel. Hy is vermoedelik van agter geskiet.

Sy liggaam is in die middel van Stellenhofstraat gevind, aan die bestuurderskant van sy Toyota Corolla. Die deur was oop en die sleutels het by sy voete gelê.

Bure het twee mans van die toneel sien weghardloop.

Dit kon 'n mislukte kapingspoging gewees het, het insp. Olebogeng Tawana, woordvoerder van die Strand-polisie, gesê oor dié voorval omstreeks 23:00.

Of dalk het Schumann die verdagtes in sy voertuig betrap, bespiegel familielede.

Sy vrou, Annaline, was by bure toe sy 'n skoot hoor, gevolg deur 'n buurvrou wat haar naam uitroep. Sy het haar man se lewelose liggaam in die straat opgemerk en terselfdertyd gehoor hoe hul 16-jarige dogter, Stefanie, vreesbevange vanuit hul huis na haar roep.

Toe die skoot klap, het Stefanie inderhaas die kombuisdeur gesluit waar haar pa oomblikke vroeër uit is.

Mev. Schumann het gister vertel dat haar man omstreeks 22:00 van sy werk by Mr Delivery tuisgekom het.

Sy is na die bure vir 'n koppie tee en hy sou sy kar langs die huis intrek, agter die voertuig van 'n kollega waaraan hy besig was om te werk. Beswaarlik vyf minute later is haar man, met wie sy 16 jaar getroud was, doodgeskiet.

Hy het met sy kop op sy hande gelê, "soos een wat slaap".

Een 9 mm-koeëldoppie is later op die toneel opgetel.

Mnr. Bertie van Wyk, 'n familielid, vermoed die oorledene is dopgehou en dat sy moordenaars geweet het hy kom elke aand min of meer dieselfde tyd huis toe.

Familie en vriende vertel die stasie is naby en Stellenhofstraat dien as deurloop dorp toe.

'n Jaar gelede is 'n buurman, mnr. Jurie Swart, in dieselfde straat met 'n mes aangeval en van sy inkopies beroof. Hy was gelukkiger as Schumann en moes net steke kry.

Onlangs is mev. Schumann se broer, mnr. Jan Groenewald, ook in Stellenhofstraat oorval. Sy aanvaller het op die vlug geslaan toe Swart op die toneel kom.

Enigiemand met inligting word versoek om kapt. Paul Beresford by 021 854 9125 of 084 657 0597 te bel.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2431467,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.