Saturday, 20 December 2008

2 boere in sel ná hulle ‘aanvaller’ oorhandig

Dec 19 2008 08:57:20:870PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Twee boere van Marble Hall in Limpopo is oornag in polisieselle opgesluit nadat hulle ’n vermeende aanvaller op hul plaas aangekeer en aan die polisie oorhandig het.

’n Dag later is die aanklag van poging tot moord teen mnre. Emile Bloemhof (34) en Albert Koltzov (20) in die hof in Marble Hall teruggetrek.

“Daar was nie bewyse om die aanklag te staaf nie en die landdros het die saak van die rol geskrap,” het mnr. Paul Coetzee, hul regsverteenwoordiger, gesê.

Hulle oorweeg nou ’n siviele eis teen die polisie.

Volgens Coetzee het ’n afgedankte werker, ene mnr. Ncube, verlede Saterdag op die H73-plaas, waar Bloemhof en Koltzov boer, opgedaag.

Ncube het glo die plaasvoorman se vrou met ’n mes gesteek en nóg vier mense aangerand. Hy het daarna gevlug.

Die twee boere en van hul plaaswerkers het hom agternagesit. Hulle het hom vasgetrek en aan die polisie oorhandig. Dit is nie duidelik of Ncube aangerand is nie.

Coetzee het gesê polisiebeamptes van Marble Hall het eergistermiddag op die plaas opgedaag en Bloemhof en Koltzov gevra om saam met hulle na die polisiekantoor te gaan om ’n verklaring oor die voorval af te lê.

By die polisiekantoor is hulle in hegtenis geneem en in die selle geboender, het Coetzee gesê. Hulle kon ’n oproep maak en het Coetzee omstreeks 17:00 gebel.

“Die inspekteur in die aanklagkantoor het gesê hy het nie die bevoegdheid om my by my kliënte toe te laat nie.

“Ek het die ondersoekbeampte gebel en hy het gesê hy is besig en sal ’n uur en ’n half neem om by die polisiekantoor uit te kom.”

Coetzee het ook supt. Caroline Mokatsi, bevelvoerder van die Marble Hall-polisie, gebel.

“Sy het ook vir my gesê sy het nie die bevoegdheid om my by my kliënte toe te laat nie.”

Coetzee het gesê hy gaan die voorval by die onafhanklike klagtedirektoraat aanmeld.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2444257,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.