Tuesday, 16 December 2008

Boer herken glo 2 rowers wat hom in die boud skiet

Dec 15 2008 09:39:38:597PM - (SA)

’n Boer van ’n plaas naby Nigel reken hy ken twee van die drie rowers in wie hy homself eergisteroggend op sy werf vasgeloop en wat hom in die boud geskiet het.

Mnr. Herman Bothma (45) se vrou, Aletta (42), het gister gesê hy is baie gelukkig dat die koeël nie ernstige skade veroorsaak het nie.

“Hy is in ’n baie goeie toestand in die Glenwood-hospitaal in Benoni en by sy volle bewussyn. Hy is baie gelukkig; dit kon veel erger gewees het,” het mev. Bothma gesê.

Mnr. Bothma het volgens sy vrou eergister omstreeks 01:20 wakker geword toe die honde op sy werf aanhoudend begin blaf het.

“Hy het uitgeloop om te gaan kyk wat aangaan, maar niks opgemerk nie en weer in die bed geklim.

“Die honde het egter aangehou blaf en hy het weer opgestaan om te gaan kyk of een van die melkkoeie nie dalk uit die kraal gekom het nie.

“Hy het buitentoe gegaan en gesien hoe die honde heeltyd om ’n watertenk op die erf geloop en blaf het.

“Dis toe hy om dié tenk stap dat hy die drie rowers gewaar het. Een van hulle het hom eenvoudig daar en dan geskiet en toe het al drie weggehardloop.

“Die koeël het by sy linkerlies ingegaan en by sy regterboud uitgegaan.

“Dit lyk of die rowers van ons skape wou steel, want daar was spore buite die skaapkraal.”

Sy het gesê haar man reken dat twee van die drie rowers plaaswerkers in die omgewing is. “Hy het gesê die een het gelyk soos ’n werker wat destyds op ons plaas gewerk het, en nog een het gelyk soos ’n werker wat op ’n naburige plaas werk,” het sy gesê.

Konst. Daisy Ndlela, polisiewoordvoerder van die Devon-polisiekantoor, het gister die voorval bevestig. – Fanie van Rooyen

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2442572,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.