Wednesday, 3 December 2008

Drie lewenslank tronk toe ná moord op boer

Mnr. Thys Boshoff

Dec 03 2008 07:36:45:713AM - (SA)

Buks Viljoen

Drie mans wat ’n 66-jarige boer in 2006 op sy plaas naby Carolina doodgeskiet het, is gister lewenslange tronkstraf opgelê.

Sipho Nyamane (25), Jan Mandla Makhabane (26) en Bheki Hadebe (20) is ook skuldig bevind aan poging tot moord op mnr. Thys Boshoff se vrou, Babs (61), wat vier vingers in die aanval verloor het.

Die egpaar is in Junie 2006 op die plaas Boesmanspruit aangeval.

Hulle het by die huis ingevlug en die deur toegedruk.

Die rowers het verskeie skote met ’n 12-boor-haelgeweer deur die deur geskiet.

Mnr. Boshoff is in die bors getref en is op slag dood.

Een van die skote het mev. Boshoff se linkerhand aan flarde geruk. Sy het al die vingers aan dié hand, behalwe die duim, in die plofslag verloor.

Regter Eben Jordaan het gister in die hooggeregshof in Middelburg gesê die moordenaars het na die plaas gegaan met die plan om te moor.

Buiten die lewenslange vonnis, het Jordaan die drie ’n 15 jaar-vonnis weens poging tot moord opgelê.

Nyamane en Makhabane is ook tot ’n bykomende 23 jaar tronkstraf gevonnis – weens roof met verswarende omstandighede (15 jaar) en die onwettige besit van vuurwapens (vyf jaar) en ammunisie (drie jaar).

Jordaan het bevind Hadebe was nie regstreeks betrokke by die hantering van die vuurwapens nie, maar hy was wel tydens die moord teenwoordig.

Die vonnisse moet samelopend uitgedien word.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2436265,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.