Tuesday, 9 December 2008

G'teng loop ergste onder dié aanvalle deur

Dec 08 2008 09:29:20:310PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – Meer as die helfte van aanvalle op plase en hoewes sedert Januarie vanjaar was in Gauteng en meer as die helfte daarvan was in Kameeldrift en Cullinan.

Altesame 47 van die plaas- en hoewe-aanvalle het volgens statistieke van TLU SA-noord in dié gebiede naby Pretoria plaasgevind.

In Gauteng is 33 mense van Januarie tot die eerste week van Desember in sulke aanvalle vermoor.

Mnr. Louis Meintjies, adjunkpresident van TLU SA, het gesê ondanks ’n griefskrif met die handtekeninge van sowat 1 000 inwoners van Kameeldrift en Cullinan wat aan die polisie oorhandig is, bly vrae onbeantwoord. “(Die polisie) steur hulle oënskynlik nie aan die versoeke van die gemeenskap nie.”

Volgens Meintjies wag hulle steeds vir terugvoering van komm. Perumal Naidoo, Gautengse polisiehoof.

Die polisie kan nie presiese statistieke van plaasaanvalle verskaf nie omdat dit as inbrake, rooftogte, gewapende rooftogte, moord of poging tot moord geklassifiseer word. Dit is hoekom TLU SA-noord besluit het om boek te hou van plaasaanvalle.

Volgens TLU SA-noord se statistieke was daar naas Gauteng die meeste plaasaanvalle (22) in Noordwes. Sewe mense is vanjaar in dié provinsie op hul plase vermoor.

In Mpumalanga is 17 sulke aanvalle aangemeld en in Limpopo agt.

Mnr. Jan Viljoen, president van TLU SA-noord, het gesê die statistieke is skokkend.

“Dit is baie kommerwekkend, veral die groot aantal aanvalle en moorde in Gauteng.

“Wat die ergste is, is die totale onvermoë van die polisie en die regering om sinvol op die slagting te reageer.”

Volgens hom laat dit die vraag ontstaan of polisielede dalk self in gebiede met ’n hoë misdaadsyfer by misdaad betrokke kan wees.

“Is die polisie bereid om ’n ondersoek na korrupsie, omkopery en betrokkenheid by misdaad by die betrokke polisiekantore te doen? Indien die ondersoek niks oplewer nie, moet in elk geval ontslae geraak word van onbekwame lede.”

Viljoen het gesê die betreklik lae voorkoms van aanvalle in Limpopo kan as getuigskrif vir die goeie samewerking tussen veiligheidstrukture, TLU SA-noord en die polisie dien.

In KwaZulu-Natal en die Vrystaat is agt plaasaanvalle elk aangemeld. Daar was ses in die Wes-Kaap, vyf in die Oos-Kaap, twee in die Noord-Kaap en een in die Suid-Kaap.

Meintjies het gesê die griefskrif van die Cullinan- en Kameeldrift-gemeenskappe gaan ook na mnr. Nathi Mthethwa, minister van veiligheid en sekuriteit, en komm. Tim Williams, waarnemende nasionale polisiehoof, gestuur word.

Boere en mense wat op plase en hoewes woon, is gemaan om hul veiligheid in die Kerstyd op te skerp.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2439278,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.