Wednesday, 3 December 2008

Plaasrowers gebruik seun as skild

Mnr. Kassie Cloete in die Montana-hospitaal nadat hy tydens 'n gewapende aanval twee keer raakgeskiet is. Foto: Cornél van Heerden

Dec 02 2008 09:23:03:930PM - (SA)

Virginia Keppler

Drie gewapende rowers het gister ’n agtjarige seun as ’n skild gebruik om die eienaar van ’n wildplaas uit sy huis te lok en te skiet.

Juandré Reyneke (8) en sy pa, André (40), is omstreeks 02:00 in hul ron?dawel op ’n plaas by Varkfontein naby Cullinan, oos van Pretoria, oorval en aangerand.

Reyneke sr., ’n professionele jagter, en sy seun was gaste op die plaas. “Ons het geslaap toe ek wakker word en sien hoe iemand ’n pistool teen my seun se kop druk,” het Reyneke sr. vertel.

“Die volgende oomblik het een (van hulle) my met sy vuis in die gesig geslaan en my van die bed af geruk.

“Hulle het gevra vir geld, ’n kluis en wapens. My kind het histeries geraak en ek het met hom gepraat om hom te kalmeer, maar toe spring hulle op my kop en rug en skop my in die ribbes.

“Hulle het my seun ook met ’n pistool teen die kop geslaan en hom in die gesig geklap en teen die bors geslaan,” het Reyneke sr. gesê.

Die rowers het daarna die Reynekes se hande en voete met hul stewels se veters vasgebind. ’n Rower het by Reyneke sr. gebly terwyl die ander twee sy seun na mnr. Kassie Cloete se rondawel gesleep het.

Cloete het gister in sy bed in die Montana-hospitaal in Pretoria gesê hy het wakker geword toe hy Juandré buite na hom hoor roep.

“Ek het by my kamer se skuifdeur gaan staan en die kind daar sien staan. Ek het gevra wat is fout en toe kom een skielik agter ’n muur uit en skiet op my.” Hy is twee keer getref.

“Ek het my pistool gegryp en ’n skoot afgevuur, waarna die rowers weggehardloop het,” het Cloete gesê.

Hulle het egter vir Juandré tot by die plaas se hek agterna gesleep. “Daar het hulle vir my kind geskreeu: ‘Hardloop of ons skiet jou,’ maar sy voete was nog vasgebind,” het Reyneke sr. vertel.

Reyneke sr. het vertel ’n rower was op die punt om sy ringvinger af te sny om sy ring in die hande te kry, toe Cloete se skoot geklap het.

“Dit het hom laat stop en toe hardloop hy uit. Al het die oom betyds met sy wapen uitgekom, sou hy nie die m**re kon skiet nie, want hulle het my seun as ’n shield gebruik.”

Juandré se ma het hom gister vir sielkundige behandeling geneem.

Die rowers het gevlug met Reyneke sr. se pistool, twee selfone, R1 000 en die toestel waarmee hy sy bloedsuiker meet.

Mnr. Johannes Jafta, polisiewoordvoerder, het gesê ’n verdagte is al in hegtenis geneem.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2436346,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.