Saturday, 13 December 2008

‘Toe skiet hulle my waar ek lê’

Mnr. André Kriel en sy vrou, Marietjie, gister in die Glynnwood-hospitaal. Foto: Denzil Maregele

Dec 12 2008 07:43:26:417PM - (SA)

Gloria Edwards

’n Oos-Randse man veg om sy lewe nadat vyf gewapende rowers hom nege keer geskiet en toe met sy viertrekvoertuig gevlug het.

Die rowers wou boonop ’n familielid se tienerseun saam met hulle neem, maar hy het hulle gesoebat om hom te los.

Vier van die vyf is gisteroggend in nóg ’n rooftog gewond en gearresteer.

Die bende het mnr. André Kriel (45) en sy gesin eergister omstreeks 22:00 by hul huis op die Withok-kleinhoewe in Brakpan oorval.

“Hulle het net woordeloos op my losgebrand,” het Kriel gister uit die Life Health Glynnwood-hospitaal se hoësorgeenheid in Benoni vertel.

Hy en sy vrou, Marietjie (44), hul seun, AJ (11), Chris Marais (15), hul dogter, Wilmie (17), en dié se vriend, Ruan Jonker (20), het by die huis stilgehou nadat hul gaan uiteet het.

Mnr. Kriel en Chris het by die motorhuis gewag terwyl mev. Kriel en die ander kinders ingegaan het om die alarmstelsel te deaktiveer.

Nadat mnr. Kriel die Land Rover Discovery in die motorhuis getrek het, het hy saam met Chris (seun van Marietjie se neef) huis toe geloop. Dis toe dat die kapers hulle oorval het.

“Ek het vir Chris geskree om in die huis in te hardloop. Toe skiet hulle net op my. Ek het nog probeer keer, maar het deur die glasdeur geval. Toe skiet hulle my weer waar ek daar gelê het.”

Hy in die arms, bene en bors getref. Die koeëls het sy regterarm en linkerbeen gebreek.

Intussen het mev. Kriel haar en die ander kinders in haar kamer toegesluit. Wilmie het in die kombuis geskuil waar een van die aanvallers ’n wapen teen haar kop gedruk en haar handsak gegryp het.

“Dis ’n wonderwerk dat hy haar nie geskiet het nie,” het mev. Kriel gesê.

“Chris moes die motorhuis en hek vir hulle oopsluit. Hulle wou hom ontvoer, toe smeek hy dat hulle hom los,” het sy gesê.

“Ons weet ons Vader sal ons hierdeur bring.”

Dieselfde aanvallers het glo gisteroggend twee veiligheidswagte in Springs beroof, het insp. Tommy Tomlinson, polisiewoordvoerder, gesê. ’n Skietery het omstreeks 04:30 tussen die rowers en polisie uitgebreek.

“Die vier gewonde verdagtes is in die hospitaal.

“Twee vuurwapens en vyf selfone is in hul besit gevind. Die ander rower is nog soek.”

Die mans verskyn binnekort in die Springs-landdroshof op aanklagte van poging tot moord, kaping, gewapende roof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens. “Hulle kan moontlik met verskeie kapings, pogings tot moord en gewapende roof verbind word.”

Die Land Rover is verlate naby ’n ouetehuis in Springs gevind.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2441694,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.