Monday, 1 December 2008

Vrou deur venster om man te maan

Nov 30 2008 07:58:32:520PM - (SA)

Herman Scholtz

Al waaraan me. Ria Brown (63) kon dink terwyl sy deur haar kamervenster gebreek het om te ontsnap, is of die rowers wat haar aangeval het, haar man ook beetgepak het.

Dít nadat hulle haar byna met ’n plastieksak versmoor het.

Twee mans het haar eergister omstreeks 11:00 by hul plaashuis naby Waterval-Boven in Mpumalanga oorval.

“My man het gou na ons bure toe gery. Hy was nie vyf minute weg nie toe die twee hier aangekom het,” het sy gister vertel.

Hulle het haar aan die nek gegryp en by die huis ingedwing.

Daar het hulle haar hande en voete met dasse en gordels vasgebind.

“Ek kon nie sien of hulle vuurwapens by hulle gehad het nie, maar ek het nie ’n keuse gehad om gehoor te gee nie.

“Hulle wou die kluis se sleutel gehad het, maar ek het gesê my man het dit. Toe gee ek vir hulle die sleutel van ’n liasseerkabinet waarin daar kontant was.”

Nadat hulle die kontant uit die kabinet gevat het, wou hulle steeds die kluissleutel hê.

Die rowers het Brown tot met ’n plastieksak probeer versmoor.

“Dis tóé dat ek geweet het hulle is ernstig. Ek het maar die kluis se sleutel vir hulle gegee.”

Hulle het nog kontant, juwele, vier handwapens en twee gewere gevat.

Die wapens behoort aan haar man, Ian (63), ’n provinsiale skut.

Die twee rowers het me. Brown in die slaapkamer toegesluit en weggehardloop.

“Ek het gewag tot alles stil geword het en myself losgewikkel.

“Ek was so bang hulle lei my man in ’n hinderlaag. Hulle sou hom vir seker skiet,” het sy gesê.

Uit desperaatheid het sy die kamervenster gebreek en deurgeklouter om by die telefoon in die huis uit te kom.

“Gelukkig was my man al op pad huis toe en ’n kilometer weg.”

Mnr. Brown het die polisie van Waterval-Boven ontbied, maar dié kon glo nie uitkom nie, want hulle het net een voertuig, wat nie beskikbaar was nie.

“Uiteindelik het polisielede van Lydenburg se kant ons kom help. Hulle was baie behulpsaam,” het me. Brown gesê.

“Ek gee nie om vir die juwele nie. Ek dra dit nie omdat dit te gevaarlik is. Maar die vuurwapens spook by my. Hulle gaan iemand daarmee doodskiet.”

Supt. Malcolm Mokomene, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê niemand is nog aangekeer nie. Hy het gistermiddag laat sowat 100 km na Waterval-Boven gery om uit te vind waarom dié polisiekantoor nie die Browns kon bystaan nie.

“As dit waar is, is dit onaanvaarbaar. Selfs as daar net een voertuig is, moet hulle voorkeur aan sulke noodgevalle gee.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2435039,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.