Tuesday, 30 December 2008

Wag skiet glo man wat ‘nie daar mag staan’

Dec 29 2008 09:22:02:570PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – Die dag voor Kersfees het hier amper in ’n bloedbad ontaard toe ’n veiligheidswag ’n inwoner by ’n besige winkelsentrum trompop geskiet het.

Nadat die koeël mnr. Marthinus Beukes (28) by die Game-winkelsentrum in die bors getref het, het dit ook mnr. Extra Mashita, ’n Gautenger, in die maag getref.

Mnr. Thomas Mathebula (38), die veiligheidswag, het gister vlugtig op twee aanklagte van poging tot moord in die Polokwane-landdroshof verskyn.

Hy is op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Beukes, ’n vragmotorverkoopsman, is skrams in sy linkerlong getref.

Hy is ná die skietery na die Limpopo Medi-Clinic geneem en is op Kersdag ontslaan.

Mnr. Hennie Beukes, sy pa, is erg geskok en woedend.

“Ons het net hier gestaan en pies geëet. Ons het niks verkeerd gedoen nie; toe word my kind geskiet.”

Volgens Beukes sr. het hy en die res van sy familie die dag voor Kersfees na die sentrum gegaan om ’n familiefoto te laat neem. Daarna het hy en sy seun elkeen ’n pastei gekoop. Hulle het dit naby die ingang van die sentrum gestaan en eet. Die sentrum was besig.

Mathebula van die veiligheidsmaatskappy Group 4-Securicor het met sy geldwa voor die ingang van die winkelsentrum stilgehou.

Hy was op pad na die Absa-kitsbank.

“Hy het aan ons gesê ons mag nie naby ’n pilaar staan en eet nie, want hy wil daar loop.

“Toe sê ek en my seun ons sal nie loop nie, want daar is hóéveel ander mense wat ook daar rondgestaan het.”

Volgens Beukes sr. het die wag sy seun glo daarna van agter aan sy gordel gegryp en om die pilaar waar hy gestaan het, gepluk.

Beukes jr. het die wag daarna glo op die mond geslaan.

“Toe loop die wag terug na die geldwa, haal sy pistool uit, stap terug na ons toe en gaan staan seker so ’n meter van my seun af. Toe skiet hy my seun sonder om enigiets te sê. Ek het gedog hy gaan my ook skiet,” het Beukes sr. gesê.

Die koeël het ook vir Mashita, wat na Game geloop het, getref.

Hy het ’n noodoperasie in die Polo?kwane- provinsiale hospitaal ondergaan. Sy toestand is bevredigend.

Intussen het Mathebula klagte van aanranding teen Beukes jr. en sr. ingedien.

Mathebula moet weer op 4 Februarie in die hof verskyn.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2446857,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.