Sunday, 11 January 2009

BBP-polisie het blatant gelieg

10/01/2009 21:28 - (SA)

Marenet Jordaan

Pretoria

Toe die “bloulig-boelies” van die polisie se BBP-eenheid verlede naweek sonder waarskuwing op ’n snelweg met vuurwapens losbrand op die Golf GTI van mnr. Chase van der Walt, was sy ma by hom in die motor.

Sy is wonderbaarlik nie raak geskiet nie, maar Van der Walt is in die arm getref en het eers teen die einde van die week uit die hospitaal gekom. Koeëlskerwe moes uit sy arm verwyder word.

Van der Walt (23), ’n rekenaarprogrammeerder van Benoni, is verlede Saterdag in ’n onderonsie met pres. Kgalema Motlanthe se wagte op die N12 tussen Johannesburg en Boksburg in die arm geskiet.

Nadat sy motor tot stilstand gekom het, het van die polisielede die beseerde Van der Walt hardhandig uit sy motor gepluk, op die grond vasgepen en vuurwapens op hom gerig.

Volgens sy regsverteenwoordiger, mnr. Hugo van der Westhuizen, het Van der Walt en sy ma in sy Golf GTI op pad Benoni toe verby ’n konvooi swart motors gery.

“ ’n Passasier in een van die motors het halflyf by ’n venster uitgeleun en ’n vuurwapen direk na die kop van ons kliënt gerig terwyl al die voertuie in beweging was.

“Sonder enige waarskuwing of kennisgewing is skote na ons kliënt geskiet wat ’n besering aan sy regterarm veroorsaak het en die voertuig talle kere getref het.”

Van der Walt het weens die skietery teen een van die voertuie in die konvooi gebots wat tot stilstand gekom het in die pad voor sy motor.

Hy is in die hospitaal opgeneem en geopereer om koeël-skerwe te verwyder wat in sy arm vasgesit het.

Volgens Van der Westhuizen is hy gister uit die hospitaal ontslaan. Hy oorweeg dit om klagte by die polisie in te dien en om sivielregtelike stappe te doen.

Volgens ’n ooggetuie wat kort ná die voorval op die toneel was, het die polisielede Van der Walt hardhandig uit sy motor geruk. Die ooggetuie, wat anoniem wil bly, het ook gesien hoe die polisiemanne hom op die grond dwing en vuurwapens op hom rig.

Hy beweer dat die polisielede geen poging aangewend het om die verkeer, wat kilometers ver opgedam het, te reguleer nie. “Hulle was beslis meer bedreigend as professioneel.”

Volgens die ooggetuie was daar vier koeëlgate in Van der Walt se motor.

Die polisie het aanvanklik gesê Van der Walt het te na aan die president se motor gery en daarom het die BBP-polisielede ingegryp. Hulle het ontken hy is gewond en gesê sy hand is net beseer. Hulle het ook beweer hy was onder die invloed van drank en dat hy van die toneel probeer vlug het.

Dir. Sally de Beer, nasionale polisiewoordvoerder, het intussen erken die polisie se eerste weergawe van dié gebeure “was feitelik nie korrek nie”.

Die voorval word tans deur die polisie én die onafhanklike klagte-direktoraat (OKD) ondersoek.

“Die hele saak word ondersoek met die doel om klagte teen die bestuurder van die rooi Golf in te dien en om vas te stel of die polisielede wat betrokke was binne hul mandaat opgetree het as beskermers van die president van die land se veiligheid en binne die bestek van die wet,” het De Beer gesê.

Die SABC het ook by die polisie gaan kla nadat ’n kameraman se videoband en dele van ’n joernalis se notaboek op die ongelukstoneel gekonfiskeer is.

Mnr. Snuki Zikalala, die SABC se hoof van nuus en aktuele sake, het nadat die polisie die videobande teruggee het gesê van die beeldmateriaal is uitgevee.

Die DA het die Skerpioene versoek om dié bewerings te ondersoek.

Die BBP-eenheid was die laaste paar maande gedurig in die nuus oor beweerde vergrype.

Komm. Mzondeki “Sean” Tshabalala, afdelingshoof van dié eenheid, was onder meer in Augustus verlede jaar in ’n ongeluk met ’n polisiemotor betrokke terwyl hy na bewering onder die invloed van drank was.

Luidens ’n verklaring van me. Dianne Kohler-Barnard, DA-woordvoerder oor veiligheid en sekuriteit, het Tshabalala klaarblyklik vervolging hieroor ontduik.

In ’n onlangse parlementêre antwoord van mnr. Nathi Mthethwa, minister van veiligheid en sekuriteit, aan die DA het dit aan die lig gekom dat daar die afgelope vier jaar 111 voorvalle van magsmisbruik, pligsversuim, wangedrag en misdadigheid in dié eenheid was. Dit sluit moord, aanranding en dronkbestuur in. Net twee BBP-polisielede is egter afgedank en vyf geskors.

Die Suid-Afrikaanse Polisie-unie het ’n volskaalse OKD-ondersoek na die BBP-eenheid verwelkom. “Ons meen aangesien ons land ’n konstitusionele demokrasie is, is niemand bo die wet verhewe nie.”

Bykomende bron: Sapa

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2451412,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.