Friday, 9 January 2009

Boer skiet aanvaller dood

Jan 08 2009 08:48:06:120PM - (SA)

Buks Viljoen

’n Geroeste pistool wat vasgesteek het toe ’n aanvaller die derde skoot op ’n boer van Belfast, Mpumalanga, wou skiet, het waarskynlik die boer se lewe gered ... én die booswig s’n geëis.

“Die onverwagte storing was beslis my behoud. Dit het my kans gegee om my eie pistool by te kom en terug te skiet,” het mnr. Nico van Staden (44) gisteroggend aan Beeld vertel.

Die aanvaller is doodgeskiet terwyl hy en Van Staden gestoei het. Van Staden self is nie gewond nie.

Van Staden en sy twee kinders, Nieke (9) en Rikus (15), het die aand by hul buurman, mnr. Kobus Maré, gekuier.

“Ons het kort ná 20:00 voor die opstal se hek stilgehou. Rikus wou uitklim om oop te sluit toe die aanvaller toeslaan.”

Van Staden het sy bakkie se deur oopgestamp en die rower daarmee getref. “Dit was ’n woeste (stoei-)geveg. Ek het eers besef hy het makkers toe een my van agter slaan.

“Die aanvaller het twee skote op my geskiet. Toe hy ’n derde skoot aftrek, het die wapen gestoor,” sê Van Staden.

Dié enkele sekondes se oponthoud het hom ’n kans gegee om sy eie pistool, wat in die skede aan sy sy was, uit te pluk.

Hy het twee skote op die aanvaller geskiet. Dié is in die bors getref en op slag dood.

Van Staden het ook op die makkers geskiet, wat toe weggehardloop het.

Die pistool waarmee die aanvaller geskiet het, behoort glo aan die polisie en was skynbaar ’n ruk lank in die grond begrawe nadat dit gesteel is.

Van Staden se vrou, Martie (43), was ten tyde van die aanval in Kaapstad, waar sy ’n begrafnis bygewoon het. Sy het gisteroggend huis toe gekom. Van Staden sê sy kinders leef sedert die aanval in vrees. “Hulle is nou vrekbang om op die plaas te wees.”

Die kinders het eergisternag op die buurplaas by mnr. Francois Prinsloo oornag.

Van Staden het verlede jaar saam met ander boere lesings oor selfverdediging bygewoon.

“Dit het hom beslis in hierdie situasie gehelp,” sê mnr. Ernst van den Berg van die Wonderfontein-boere-unie.

Supt. Abie Khoabane, polisiewoordvoerder, sê hulle het ook ’n tweede 9 mm-pistool se magasyn met sewe patrone daarin naby die plaashek opgetel.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2450560,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.