Tuesday, 20 January 2009

Drie skop en slaan vrou dood in dogter se huis

Me. Linda Desiré Henery en haar ma, me. Linda Henery.

Jan 19 2009 11:16:29:777PM - (SA)

Amanda Roestoff

Krugersdorp. – ’n Vrystaatse vrou is hier doodgeskop en -geslaan enkele dae nadat sy in die middel van die nag ’n dreigoproep ontvang het.

“Die anonieme persoon het haar so 00:30 gebel en gesê as sy weet wat goed is vir haar, moet sy uit Kroonstad f****f,” het me. Linda Desiré Henery (26) gister ná die dood van haar ma, ook Linda (49), gesê.

Henery sr. het verlede week vanuit Kroonstad vir haar dogter in Krugersdorp kom kuier.

Vrydagaand het hulle TV gekyk toe drie mans, twee met handwapens en een met ’n skerp voorwerp, in die huis in Bush-weg, Noordheuwel, verskyn het.

Een van die aanvallers het Peanut, ’n klein Jack Russell-hondjie, in die nek gesteek toe hy begin blaf.

“My ma het gesmeek en gesê hulle moet vat wat hulle wil hê en ons net nie seermaak nie.”

Die rowers het die twee vroue op ’n bed in ’n slaapkamer op die boonste verdieping van die huis laat lê en ’n deken oor hulle gegooi.

Die drie rowers het hulle vyf sekondes lank alleen gelaat en in dié tyd kon Henery jr. die noodknoppie in die slaapkamer druk.

Toe haar ma die aanvallers vir ’n bietjie water vra, het hulle haar van die bed gepluk en hard op die grond gegooi.

“Ek het net een keer gehoor sy vra: ‘Asseblief, ek het ’n hartomleiding gehad, moet my nie so skop nie!’ ”

’n Aanvaller het Henery jr. ondertoe geneem om ’n kluis oop te maak.

By haar terugkeer het sy vir haar ma ’n glas water gevat.

“Dit is toe dat ek sien haar hande is agter haar rug vasgebind.”

Henery sr. was toe reeds so geskop en geslaan dat sy skaars die water kon drink. Haar gesig was erg geswel.

’n Aanvaller het die glas water weggepluk, Henery jr. tot op die bed gestamp en met haar gordels vasgebind. Een van die rowers het haar ma toe uit die kamer geneem. “Sy’t baie gesukkel en was baie erg beseer.”

Volgens Henery jr. was dit “net ’n kwessie van ’n sekonde” en toe was die huis doodstil.

Sy het die noodknoppie toe ’n tweede keer gedruk en die huis deurgesoek.

“Dit is toe dat ek net haar voete by die kamerdeur sien uitsteek waar sy op haar rug gelê het.”

Henery jr. het die gordel om haar ma se arms met ’n skêr losgesny. Toe skuim uit haar ma se mond begin borrel, het Henery jr. haar op haar sy gedraai en dit afgevee. Dis toe dat sy sien hoe geswel haar ma se hele lyf was. “Toe ek haar mond druk, het net bloed uitgekom.

“Hoekom het hulle my ma so verniel en dit oor ’n glas water?”

Henery jr. het gaan hulp soek by ’n woonstelkompleks oorkant haar huis. ’n ADT-wag het later eers opgedaag.

“Die veiligheidswag het net gesê hy is jammer. Hy was besig met ’n ander klagte.”

Die aanvallers het drie selfone, ’n leerbaadjie, ’n paar tekkies, juweliersware en R50 kontant gevat.

Die familie is baie bekommerd omdat twee susters van Henery sr. sedertdien ook vreemde oproepe en SMS’e begin kry het.

’n Verassingsdiens vind môre om 11:00 by die AGS in Libertasstraat, Noordheuwel, plaas.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2455744,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.