Friday, 23 January 2009

N14-moord: vrou wil landuit

Mnr. Dieter Fürrutter verlede jaar saam met sy kinders, Linda (33) en Marco (23).

Jan 22 2009 09:46:04:127PM - (SA)

Leané du Plessis en Janice Keogh

‘Ek is kwaad, baie kwaad.”

Ná die koelbloedige moord vandeesweek op mnr. Dieter Fürrutter (65) van Roodepoort oorweeg sy vrou, Rosie (50), dit nou baie sterk om die land te verlaat, al noem sy dit haar huis.

Dié moord was die ergste van ’n reeks misdade waaronder haar gesin al deurgeloop het.

“Rowers het my al probeer skiet terwyl ek in my kar gesit het. Ek is al hoeveel keer deur grypdiewe beroof, my kind is in sy universiteit se parkeerterrein aangehou en my dogter is al by ’n nagklub én by haar werk met wapens gedreig.

“Ek is lief vir die land, maar dis hopeloos hier,” het mev. Fürrutter gister gesê.

“My man se dood was die laaste strooi vir my buurvrou se dogter. Sy en haar man het nog gewik en geweeg of hulle gaan bly, maar hulle gaan nou met die emigrasieproses na Australië begin.”

Die Fürrutters se seun, Marco (23), kry in Maart sy graad in ingenieurswese aan die Universiteit van Johannesburg. Hul dogter, Linda (33), werk by Nedbank.

“Ons kinders het hier grootgeword; hulle is lief vir die land. Maar die jeug het nie meer ’n toekoms hier nie,” het mev. Fürrutter gesê.

Haar man was altyd daar vir sy kinders, het sy gesê.

“Hy was altyd daar vir mense en het uit sy pad uit gegaan om hulle te help.”

Mnr. Fürrutter is juis doodgeskiet toe hy sy vriend, mnr. Wolfram Ebel (63), te hulp gesnel het toe dié se Jeep Maandag op die N14 naby die Diepsloot-plakkerskamp onklaar geraak het.

Terwyl Ebel onder die voertuig was om te kyk wat fout is, het hy gehoor hoe Fürrutter om hulp roep en geskiet word.

Hy is noodlottig in die rug gewond, vir R10 000 en ’n selfoon wat by Ebel geroof is. Ebel het gister vanuit Swaziland vertel hoe hy sy vriend se hand sowat 45 minute lank vasgehou het terwyl hulle vir die polisie gewag het. “Ek het heeltyd met hom gepraat. Hy het op sy sy gelê met sy oë halfpad oop. Hy was ’n baie goeie vriend van my.”

Intussen het nóg vriende groot bedrae geld aangebied vir inligting wat kan help om die skuldiges aan te keer.

Mnr. Richard Erlemann het R20 000 uitgeloof in ’n poging om die moordenaars van sy vriend van die afgelope 40 jaar te laat boet. Hy het gesê hy het al 14 voertuie weens misdaad verloor en was male sonder tal die slagoffer van gewapende rowers. Erlemann het min vertroue in die polisie.

“Die skuld vir misdade soos moord en huisbrake rus te veel op slagoffers se skouers. Ons word geblameer vir wat met ons gebeur omdat ons kwansuis nie ‘veilig’ genoeg is nie.”

Erlemann en mev. Fürrutter, sy persoonlike assistent, het gister haar man se onderneming, Dieter Car Sales in Randburg, gesluit.

Fürrutter was ’n vooraanstaande lid van die Duitse gemeenskap en tien jaar lank die voorsitter van die Duitse Karnavalvereniging van Johannesburg. Hy word binnekort vanuit die St. Bonifatius Katolieke kerk in Randburg begrawe.

Erlemann het enigiemand met inligting wat tot die moordenaars se inhegtenisneming kan lei, gevra om hom by 0 011 493 8628 te bel.

Mense kan ook ’n e-pos aan nuus@beeld.com stuur.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2457638,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.