Wednesday, 28 January 2009

Op selfde plek as ma doodgeskiet

Jan 27 2009 09:56:53:633PM - (SA)

Sonja van Buul

Walkerville. – ’n Boer van die Vaaldriehoek is Vrydagaand, meer as 12 jaar ná sy ma se plaasmoord, op presies dieselfde plek as sy in sy plaaskombuis doodgeskiet.

Mnr. David Greig (65), ’n bees- en varkboer van Hartzenbergfontein en sy vrou, Jeanette (64), is Vrydagaand in hul slaapkamer wakker gemaak deur ’n man wat vermoedelik deur ’n venster die huis ingekom het.

Die Greig-egpaar woon al die laaste 18 jaar op dié plaas in die Walkerville-omgewing.

“Die gewapende man het my skoonma gedwing om die kombuisdeur vir sy twee makkers, wat buite gewag het, oop te maak,” het mnr. Tom Hendriks, hul skoonseun, gister gesê.

Volgens Hendriks het mnr. Greig agter sy vrou en die man na die kombuis gestap.

“My skoonma kon nie die sleutels vind nie. Daarna het my skoonouers met die man geworstel om die vuurwapen in die hande te kry.”

Hendriks het hartseer vertel hoe sy skoonpa op die kombuisvloer dood is ná ’n kopskoot en twee skote in sy bors.

“My skoonpa se ma, mev. Hannah Greig, is in 1996 op presies dieselfde plek deur rowers doodgeskiet.

“Dis so ironies,” het Hendriks gesê.

Háár aanvallers, 12 mans, is gevang en dien tans altesame 175 jaar tronkstraf uit.

Volgens Hendriks is sy skoonma ook erg aangerand en met ’n stomp mes gesteek.

“Sy het reeds ’n spesialis gaan sien en daar is vasgestel dat sy permanente gehoorverlies het as gevolg van ’n gebarste oortrom.”

Sy skoonma en die hele familie is volgens Hendriks erg getraumatiseer deur die aanval.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2459970,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.