Sunday, 18 January 2009

Ope brief aan FW de Klerk

Met grote droefheid en 'n diepe teleurstelling rig ek my tot u. In 1989 het u aangetree as president van Suid-Afrika. Soos ’n Superman het u aangetree as leier van ’n Superparty. Binne 5 jaar het u gedoen wat geen ander leier voor u, ooit sou waag nie.

U het u voorganger, PW Botha, letterlik uit die weg geboelie.

In 1990 het u dit goed gevind om Suidwes-Afrika weg te skenk. Vir hierdie baie belangrike besluit het u die kiesers van Suid-Afrika nie geraadpleeg nie. U het ’n beslissing geneem sonder 'n mandaat.

In 1992 het ons 'n referendum gehou op die vraag of u met die ANC mag onderhandel. Die referendumvraag was “onderhandeling” en nie “oorgawe” nie. U het verder nog 'n belofte gemaak dat daar 'n tweede referendum sou kom na afloop van die onderhandelinge. Hierdie tweede referendum het ons nooit gesien nie. U het die oorgawe aan die ANC beklink sonder 'n mandaat van die blanke kieser.

Tydens die onderhandelinge met die ANC het daar 'n voorstel op u tafel gelê om van Suid-Afrika 'n federale staat te maak volgens die Switserse kanton-stelsel (een taal en een kultuur per kanton). Hierdie suksesresep word al sedert 1 Augustus 1291 in Switserland gebruik. Meertalige lande soos Indië, Kanada en België sou later federale state geword het volgens hierdie Switserse model. U was nie by magte om hierdie pragtige werkbare staatsbestel aan die ANC te verkoop nie. Hierdie Switserse model waarborg die regte van minderhede en minderheidstale. Soos u weet, waarborg ons huidige grondwet niks. U kon ewegoed nog 10 of 20 tale by die huidige 11 amptelike tale gevoeg het en dit sou alles geen enkele verskil gemaak het in ons huidige eenheidstaat nie.

Tydens die referendum van 1992 het 68,73% van die kiesers ingestem dat onderhandelinge met die ANC gevoer kon word (Let Wel- onderhandelinge). Van die kiesers was 31,27% volledig gekant teen onderhandelinge omdat hierdie keisers geweet het dat u op dun ys beweeg. ’n Ware staatsman probeer in sy beslissings om soveel moontlik mense tevrede te stel – ook die opposisie. Hierdie kiesers sou beslis tevrede gewees het met die invoering van 'n federale staatvorm gebaseer op etnisiteit. U het die nee-stemmers volledig geïgnoreer.

In 1994 skenk u Walvisbaai weg. U het wederom nie 'n mandaat gehad om 'n deel van die land weg te skenk nie.

Die eeue oue droom van die Afrikaner om homself te bestuur op ’n eie stuk grond, het u binne 5 jaar in die dryfsand gedruk. Die Groot Trek! Die Anglo-Boereoorlog! Dit was alles verniet! Vyf verwoestende jare! Hierna het u stilletjies van die politieke toneel gesluip. U Superparty het kort daarna verdamp. Die ja-stemmers het u en u party laat val!

Vannag word nog van my mense vermoor. Môre vertrek nog vliegtuie met blanke emigrante aan boord. Ons skole verengels. Ons universiteite verswart. Ons is ’n bedreigde volk. Met die Switserse kantonstelsel sou ons vandag hierdie ellende gespaar gewees het.

U het ons verraai meneer F.W. de Klerk!

Petrus van Eeden

http://nl.wikipedia.org/wiki/Staten_en_territoria_van_India
http://nl.wikipedia.org/wiki/Kantons_van_Zwitserland

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.