Friday, 30 January 2009

Predikantsvrou geskiet

Jan 29 2009 09:28:56:277PM - (SA)

Buks Viljoen

’n Predikantsvrou van Witbank lê in ’n ernstige toestand in die waaksaal van ’n Pretoriase hospitaal nadat sy gewond is toe sy haar bure tydens ’n gewapende rooftog wou gaan help.

Mev. Anita van Kraayenburg se man, past. Peet van Kraayenburg, is ook in die skietery gewond. Hulle is die herderspaar van die Maranatha Lig in Lewe-kerk in Witbank.

Die skietery het Dinsdagaand omstreeks 22:00 by die huis van hul bure, mnr. Chris (46) en mev. Karin (45) Visser (46) van Luna?straat plaasgevind.

Visser en sy twee dogters, Kirstie (18) en Nadine (14), het pas by die huis aangekom nadat hy hulle by ’n groentjiekonsert by die skool gaan haal het.

“Alles het so vinnig gebeur,” het mev. Visser gistermiddag gesê. Sy het die motorhuisdeur oopgemaak en terwyl haar man die motor geparkeer het, het vyf rowers hulle aangeval. Een was met ’n opvoukolfgeweer, dalk ’n AK47 of ’n R5, gewapen.

Hy het mnr. Visser in ’n sta?dium daarmee teen die kop geslaan en sy motorsleutels en selfoon gevat. Die ander rowers het almal pistole gehad. In die harwar het die meisies die huis ingevlug. Een van die rowers is agter hulle aan.

Hy het die drie vroue se handsakke gegryp en gevlug.

Die rowers het in mnr. Visser se Toyota Fortuner gespring en weggejaag.

“Oomblikke later het ons skote gehoor klap,” het mev. Visser gesê. Hulle het eers later vasgestel dat die rowers op die Van Kraay-enburgs geskiet het.

Dié egpaar het gaan ondersoek instel toe hulle mnr. Visser se hulpkrete gehoor het.

Mev. Van Kraayenburg is in die maag getref en haar man skrams deur vermoedelik ’n opslagkoeël. Hy is intussen ontslaan en sy is in ’n bestendige toestand in die Pretoria-Oos-Hospitaal.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2461347,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.