Wednesday, 28 January 2009

'Verdagte het oorledene en gesin verraai'

Die vermoorde Sterkfonteinse melkboer, mnr. Roelof (Loffie) van der Gryp (48) (naaslinks).

Jan 27 2009 09:57:18:167PM - (SA)

Amanda Roestoff

Hy het in ’n vertrouensverhouding met die oorledene en sy gesin gestaan en hulle op die mees laakbare wyse denkbaar vir geldelike gewin verraai.

So lui die staat se verklaring oor een van die beweerde moordenaars van die Sterkfonteinse melkboer, mnr. Roelof (Loffie) van der Gryp (48).

Die staatsaanklaer, mev. Michey Thesner, het dié verklaring in die Krugersdorpse streekhof as getuienis ingedien in die borgtogaansoek van mnre. Carlito Makamisu (26), Dumisani Ncebesha (20 en glo ’n gr. 10-leerling aan ’n hoërskool in die Vaal-Rand) en Thulani George Mahlalela (25) van Alexandra, noord van Johannesburg.

Dié mans is die afgelope ses weke in hegtenis geneem. Van der Gryp is op 28 Oktober verlede jaar op die familieplaas buite Krugersdorp vermoor.

Die mans staan tereg op aanklagte van moord, huisbraak met die opset om te roof en verskeie klagte van roof met verswarende omstandighede. Die klagte van poging tot moord hou verband met past. Boer Booysen wat tydens die plaasaanval in sy bobeen getref is.

“Daar is absoluut niks wat in sy (Makamisu, die plaaswerker wat langs die melkery op die Van der Gryp-boerdery gewoon het) se pad gestaan het om vertroulike inligting aan sy makkers uit te lap nie,” het mev. Thesner aangevoer. Sy het insp. Peet Venter, die ondersoekbeampte, se verklaring van 19 bladsye in die hof voorgelees.

Die staat het in hul vertoë om borgtog teen te staan gesê Van der Gryp is “op ’n koelbloedige wyse om die lewe gebring” en moes “vir vyf selfone met sy lewe boet”.

Daar is pertinent na Mahlalela se “geneigdheid tot misdadigheid” verwys.

Mahlalela staan tans ook in die Roodepoort-streekhof tereg op ses ander aanklagte wat wissel van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie tot die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig, huis- braak met die opset om te roof, roof met verswarende omstandighede en poging tot moord.

Die voorvalle het almal tussen Julie verlede jaar en Januarie vanjaar in Sandton, Sandringham en Florida, Roodepoort, voorgekom.

Uitspraak word vandag in die borgtogaansoek verwag.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2459934,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.