Tuesday, 20 January 2009

Vermoor toe sy man se graf besoek

Jan 19 2009 11:17:20:243PM - (SA)

Kimberley. – ’n Bejaarde vrou is eergister hier in die begraafplaas vermoor toe sy haar man se graf besoek het.

Mev. Hettie Uys (72), ’n inwoner van die Stillerweë-tehuis vir bejaardes, is in die Wes-Einde-begraafplaas vermoor.

Dit was die 23ste herdenking van haar man, Henry, se dood.

Sy het die begraafplaas gewoonlik nie alleen besoek nie, maar ’n vriendin wat sy gevra het om saam te gaan, was olik.

Haar seun, Henry, wat in Kaapstad woon, het gesê sy ma het blykbaar eergisteroggend ná kerk na die begraafplaas gegaan.

’n Kimberleyse egpaar, mnr. John en mev. Rina Fourie, het haar lyk by die regter-agterdeur van haar groen Renault gevind. Daar was sleepmerke en ’n klip vol bloed naby haar lyk.

’n 21-jarige verdagte is gistermiddag in Galeshewe vasgetrek.

Uys word ook oorleef deur twee dogters, mev. Annamari Potgieter van Johannesburg en mev. Henriëtte van Zyl van Zastron, en sewe kleinkinders.– Hannatjie van der Merwe

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2455742,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.