Wednesday, 25 February 2009

17 keer gesteek: Werker in hegtenis

Feb 24 2009 06:33:52:050PM - (SA)

Willem Pelser

’n Plaaswerker is gearresteer weens die wrede aanval voorverlede week op ’n boervrou tussen Chrissiesmeer en Warburton, oos van Ermelo, in Mpumalanga.

Supt. Abie Khaobane, polisiewoordvoerder, het gister gesê die plaaswerker werk op die plaas van me. Yvonne Gubb (65), die slagoffer.

Heelwat bloed is ure ná die aanval op sy klere gekry en die klere is vir forensiese ontleding weggestuur, het Khaobane gesê.

Volgens hom is die werker voorlopig vrygelaat hangende die uitslag van die bloedtoetse.

Gubb het haar aanvaller met pepersproei in die gesig gespuit toe hy haar net ná middernag in haar slaapkamer oorval het.

Hy het haar daarna 17 keer met ’n mes gesteek voordat hy gevlug het.

Gubb se dogter, me. Tracy Pemperton (40), wat by haar woon, het so geskrik toe sy die booswig sien dat sy in die kombuis gaan wegkruip het. Sy het later moed bymekaar geskraap en met ’n broodmes in die hand in die gang afgesluip om haar selfoon te gaan haal.

Die booswig was toe al weg.

Gubb het haar ander dogter in Port Elizabeth gebel en hulp gevra net voordat sy haar bewussyn verloor het. Gubb het ná die aanval erg gebloei. Sy het oorleef danksy paramedici van die Carolina-nooddienste (eerste op die toneel), en ER24 van Ermelo se vinnige optrede.

Niks is geroof tydens die aanval nie en boere van die distrik meen die aanval is moontlik politiek gemotiveerd.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2475445,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.