Wednesday, 18 February 2009

5 in arres ná moord op arts in Limpopo

Feb 17 2009 09:03:13:610PM - (SA)

Willem Pelser

Vier Mosambiekers het gistermiddag in die landdroshof in Phalaborwa verskyn weens die moord op ’n wildveearts van Gravelotte twee weke gelede.

’n Vyfde verdagte is na verneem word in Mosambiek in hegtenis geneem.

Dr. Paul Meyer (38) is begin vandeesmaand koelbloedig voor sy vrou, Marelise, en babaseuntjie, Wouter, vermoor nadat vier rowers hulle en hul bure op hul plaas in die Selati-reservaat oorval het.

Die vier staan tereg op aanklagte van moord, roof, diefstal van ’n motorvoertuig en menseroof, het supt. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo, gesê. Die saak is tot 24 Februarie uitgestel en die mans word aangehou.

’n Uitkenningsparade was teen druktyd nog aan die gang.

Die deurbraak in die saak kom nadat veldwagters verlede week toevallig ’n Toyota Land Cruiser diep in die bosse naby die Krugerwildtuin se Phalaborwa-hek gesien en die polisie ontbied het.

Die polisie het vasgestel die Land Cruiser is in Kempton Park in Gauteng gekaap en was vir Mosambiek bestem.

Deur verdere ondersoek het die polisie inligting ontvang dat vier mans wat in Lulekani, ’n informele nedersetting buite Phalaborwa, weggekruip het, met die kaping van die Land Cruiser verbind kan word. Nadat die vier verdagtes aangekeer is, het die polisie vasgestel die verdagtes kan ook met Meyer se moord verbind word, het Otto gesê.

’n Polisiebron het gister gesê ’n vyfde verdagte word in ’n Mosambiekse tronk aangehou.

Dié verdagte het Meyer se bakkie glo oor die grens geneem en toe in ’n skietgeveg met die Mosambiekse polisie betrokke geraak voordat hy in hegtenis geneem is. Mosambiek het nie ’n uitleweringsooreenkoms met Suid-Afrika nie.

Hy sal glo daar verhoor word op aanklagte wat onder meer verband hou met die onwettige invoer van Meyer se bakkie.

Die Meyers en hul bure, mnr. Pierre Gallagher en sy vrou, Sue, is oorval terwyl hulle saamgekuier het. Hulle is vasgebind en in dr. Meyer se twee dubbelkajuitbakkies gedwing.

Meyer het naby die hoofhek van die reservaat probeer om ’n pistool by een van die mans af te vat. Hulle het hom daarna doodgeskiet en sy lyk in die veld gelos. Mev. Meyer het uit die bakkie gespring en wou met haar babaseuntjie weghardloop. Die booswigte het haar gegryp, met ’n moersleutel geslaan en in die bakkie teruggedwing.

Hul nagmerrierit het sowat 70 km ver op die pad na Phalaborwa voortgeduur voordat hulle die teerpad verlaat en die veld in is. Wouter het begin huil. Die rowers het ’n pistool teen sy kop gedruk en sy ma beveel om hom stil te maak. Die rowers het die bakkies se satelliet-opsporingstoestelle verwyder en die Gallagher-egpaar en mev. Meyer in die veld naby die Krugerwildtuin se Phalaborwa-hek gelos.

Een van die booswigte is daarna met een van die bakkies deur die Krugerwildtuin oor die Mosambiekse grens waar hy aangekeer is.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2471541,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.