Tuesday, 17 February 2009

Boef dreig vrou: ‘Ek gaan jou vigs gee’

Feb 16 2009 09:33:45:950PM - (SA)

Tom de Wet

Koppies. – “Do you want Aids, because I am going to give you Aids,” het ’n aanvaller ’n jong boervrou van dié distrik gister in die vroeë oggendure herhaaldelik toegesnou nadat sy en haar man in hul huis oorval is.

Mev. Helena Potgieter sê sy het die hele tyd gebid en die man gevra om haar nie seer te maak nie. Behalwe ’n paar blou kolle en erge skok het sy uiteindelik ongedeerd daarvan afgekom.

Haar man, Manie, is herhaaldelik met ’n stuk yster geslaan en moes gister hegsteke vir wonde aan sy kop kry.

Die egpaar het gister net ná 04:00 wakker geword toe iemand hul veiligheidsdeur oopgebreek het. Mnr. Potgieter het opgestaan en in die gang in vier jongmans vasgeloop.

Hy is terug die kamer in waar hy en sy vrou die deur probeer toedruk het. Die aanvallers het uiteindelik die deur op ’n skreef oopgedwing en ’n skoot in die kamer afgevuur.

Die egpaar is toe oorval en mnr. Potgieter met dasse vasgemaak en met ’n vuurwapen gedreig. Die rowers het mev. Potgieter deur die hele huis saamgevat terwyl hulle alles deurgesoek en geld geëis het.

“Ons het hulle verseker ons het nie geld nie: Tussen my en my man se beursies was daar skaars R150. Hulle het ook vir ons tekkies gevra, seker om aan te trek sodat hul spore nie opgetel kan word nie.”

Die vier is met die geld, selfone, kameras en gereedskap daar weg toe die plaaswerkers opdaag om die koeie te begin melk.

Mnr. Potgieter het die telefoondrade, wat gesny was, gelas en sy buurman, mnr. Louis Boshoff, gebel. Boshoff het op sy beurt mnr. Louw Engelbrecht, ook van ’n naburige plaas, gebel. Almal was gou op die toneel, maar die aanvallers was weg.

Hul spore is op die grondpad gevolg tot waar hulle deur ’n motor opgelaai is. Volgens sers. Phumzile Makaula, polisiewoordvoerder, is niemand teen druktyd nog gearresteer nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2470892,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.