Wednesday, 11 February 2009

Booswigte skiet man deur kombuisvenster op kleinhoewe

Feb 10 2009 08:06:14:523PM - (SA)

Daleen van Manen

Booswigte het ’n man van Vissershoek, naby De Wildt buite Pretoria, deur sy kombuisvenster geskiet.

Mnr. Malcolm Pirie is in die wang en arm getref.

Mnr. Jan Lemmer van die Lemlou-veiligheidsmaatskappy wat eergisteraand kort ná die voorval op die toneel was, het gesê Pirie het niks buite die venster gewaar voordat hy geskiet is nie.

Pirie was omstreeks middernag in sy woonstel op ’n kleinhoewe in Vissershoek.

Hoewel sy bure twee verdagte mans opgemerk het, het hy nie onraad vermoed nie.

“Die verdagtes het die kombuisvenster gebreek en terselfdertyd ’n skoot afgevuur,” het Lemmer gesê.

“Hulle het toe die rewolwer deur die venster gedruk en nog ’n skoot geskiet.

“Pirie is getref.”

Volgens Lemmer het Pirie die alarm se noodknoppie gedruk en die booswigte het met leë hande gevlug.

Pirie is in ’n Pretoriase hospitaal opgeneem.

Insp. Dikatso Thebe, polisiewoordvoerder, het gesê dit is nog onduidelik hoe die verdagtes toegang tot die kleinhoewe gekry het. Die motief vir die aanval is ook onbekend.

Dit sal deel van die ondersoek uitmaak, het Thebe gesê.

’n Saak van poging tot moord is ingedien.

Pirie wou nie gister met Beeld praat nie.

Source:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2467600,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.