Tuesday, 10 February 2009

Busdrywer takel glo passasier met vuis

Feb 09 2009 08:41:24:370PM - (SA)

Herman Scholtz

’n Vroulike busbestuurder van Pretoria moes glo verskeie kere van ’n passasier “afgetrek” word soos sy haar met die vuiste bygedam het.

Me. Veronica Duarte (44) eis R400 000 skadevergoeding van die Tshwane-metroraad nadat sy na bewering op 2 Mei 2006 “erg” aangerand is deur een van hul busbestuurders, me. Lucy Mthethwa (toe 40).

Mthethwa is intussen aan natuurlike oorsake dood, en die metroraad staan as enigste respondent die eis in die Pretoriase hooggeregshof teen.

Duarte, ’n senior vergoedingsbeampte van die padongelukkefonds, het gister getuig hoe sy dié dag die Garsfontein 3-bus na haar huis in Sunnyside, Pretoria geneem het omdat dit koud was en sy gou by die huis wou kom.

“Die busbestuurder was ’n gróót dame,” het Duarte getuig.

Sy het gesê sy het in die bus gesit en lees toe sy sien Mthethwa praat “met haar selfoon in haar linkerhand, en bestuur met haar regterhand”.

“Ek het vir my lewe gevrees. Dit was spitsverkeer.

“Toe hoor ek haar sê: ‘I’ll be there on Friday and I have the outfit.’ Sy het baie hard gepraat.”

Sy het besluit om by Kotze-straat af te klim omdat dit “veiliger” sou wees.

“Voor ek afgeklim het, het ek vir die dame gevra of sy weet dit is onwettig om op haar selfoon te praat terwyl sy bestuur. Sy het met haat in haar oë na my gekyk.”

Toe Duarte die laaste trappie wou afklim, het Mthethwa volgens haar gesê: “Jou f****n t**f!”

Duarte was “geskok” en wou “op ’n mooi manier” vir Mthe-thwa sê dit is nie hoe ’n mens met ander praat nie. Sy het toe Mthethwa se selfoon vanaf ’n kassie in die bus opgetel en op die bus se vloer “laat val”. Dit het in drie stukke gebreek.

Volgens Duarte het sy toe afgeklim en sowat 20 treë gegee voordat sy “skreeuende bande” gehoor het. Mthethwa het uitgeklim, na haar toe geloop en haar met die vuis in die gesig begin slaan. Omstanders moes haar verskeie kere van Duarte aftrek voordat sy telkemale losgebreek en wéér op Duarte losgetrek het.

Luidens hofstukke het Duarte beserings en inwendige bloeding aan haar kop, arm, bors, en rug opgedoen. Sy moes mediese behandeling en uitgebreide psigoterapie ontvang.

Die saak duur voort.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2466980,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.