Friday, 6 February 2009

Deel juwele uit dae ná moord

Feb 05 2009 09:44:38:773PM - (SA)

Herman Scholtz

’n Paar dae ná die moord op mev. Susan Vermaak het haar huiswerker, ’n beskuldigde, haar juweliersware uitgedeel, is gister in die Pretoriase hooggeregshof getuig.

Me. Don Mashadi Maloka (46) en haar seun, mnr. Samuel Maloka (24), het gister skuld ontken op aanklagte van moord en roof.

Vermaak (63) is op 18 Desember 2006 in haar huis in Brooklyn, Pretoria, oorval, gedwing om die kluis oop te sluit en met toue vasgebind. Mnr. Henry Vermaak het op sy vrou se lyk afgekom met ’n wit plastieksak en ’n tou om haar kop. Sy is dood weens verwurging en ’n steekwond in die hart.

Luidens die klagstaat het mnr. Maloka op sy ma se versoek twee onbekende makkers gewerf om die rooftog en moord uit te voer. Mev. Vermaak, ’n afgetrede eiendomsagent en voormalige balletonderwyseres, het van die gimnasium teruggekeer toe sy oorval is.

Die moordenaars het met onder meer duur juweliersware, R75 000 kontant, selfone en elektroniese toerusting gevlug.

Me. Maloka, wat toe sowat ’n maand by die Vermaak-gesin gewerk het, is ook op die moordtoneel vasgebind, maar dié toue was los.

Me. Tiny Evelinha Mphela van Witbank het gister getuig sy het ’n paar dae ná Kersfees in 2006 by haar broer, mnr. Abraham Mphela, in Hammanskraal buite Pretoria gaan kuier.

Daar het sy ene “Sheila” ontmoet wat aan haar juweliersware, waaronder ’n dik goue ring, oorbelle en ’n bypassende borsspeld, gegee het.

“Sy het gesê haar madam het dit aan haar gegee.”

Toe adv. André Wilsenach, staatsaanklaer, haar vra of “Sheila” in die hof is, het sy na me. Maloka gewys. “Sy is Sheila,” het Mphela gesê.

Insp. André Wouter Pienaar, ’n speurder van die Brooklyn-polisiekantoor, het getuig me. Maloka was die aand van mev. Vermaak se moord by die huis.

“Wat vir my vreemd was, is dat sy baie ontspanne was. Dit was amper of sy geglimlag het.”

Toe Pienaar tydens kruisondervraging gevra is om dié stelling te verduidelik, het hy gesê: “Ek het al baie misdaadtonele gesien en beskuldigde nr. 1 (me. Maloka) se optrede het my gehinder. Ek sal dit nooit vergeet nie.”

Die verhoor duur voort.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2465129,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.