Thursday, 12 February 2009

Drie in hof oor moord op Clarens-vrou

Feb 11 2009 07:55:17:577PM - (SA)

Vicus Bürger

Bethlehem. – “Meer soos Jesus”, ’n rooi kruis en ’n verkleurmannetjie is wat agterop die hemp van een van die vermeende moordenaars van mev. Thyrza Lombard (77) van Clarens gedruk was.

Mnr. Tshokolo David Mashinini (22) het gister saam met mnre. Bongane Steven Mokoena (19) en David Matjebedi Mohloana (21) van Phahameng in die landdroshof op Bethlehem verskyn.

Hulle word daarvan verdink dat hulle Lombard in haar huis met ’n skoenveter verwurg het. Haar lyk is Maandagoggend deur ’n huiswerker in haar slaapkamer gevind.

Sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het gesê net ’n selfoon is gesteel.

Lombard was daarvoor bekend dat sy altyd vir mense wat by die huis kom aanklop het, kos of geld gegee het.

Die oorledene se seun, mnr. Pierre Lombard van Botswana, was gister ook in die hof. Volgens hom is Mashinini die seun van ’n tuinwerker wat by sy ma gewerk het.

Sy ma het al borgtog vir die werker betaal toe hy weens diefstal in hegtenis geneem is. Sy het hom ook gereeld geld en kos gegee.

Mnr. Lombard vermoed sy ma het opgehou om dít te doen. “Om ander te help het haar haar lewe gekos.”

Hy is woedend en sê hy sal na alle waarskynlikheid sy ma se moordernaar vermoor as hy in die straat op hom afkom.

Volgens hom is hy en sy suster, mev. Thyrza Stott, vroeër in Johannesburg deur gewapende mense beroof.

Hulle is in ’n huis as gyselaars gehou.

Mnr. Lombard sê ’n mens hoor altyd van misdaad, maar nou voel hulle dit naby aan hul lyf.

Die vermeende moordenaars sal Woensdag weer in die hof verskyn wanneer hulle om borgtog sal kan aansoek doen. Die staat het reeds te kenne gegee dat hy die aansoek sal teenstaan.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2468445,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.