Saturday, 21 February 2009

Kapers gryp ma by skool se hek

Me. Yolandie Swanepoel in haar nuwe motor waarin sy voor haar dogters se skool gekaap is. Foto: Felix Dlangamandla

Feb 20 2009 09:13:21:430PM - (SA)

Amanda Roestoff

Twee pa’s het moontlik die lewe van ’n ma gered nadat kapers eergisteroggend met haar in haar splinternuwe motor by ’n skool in Krugersdorp weggejaag het.

Hulle het die gekaapte motor agternagesit totdat die kapers stilgehou en te voet die hasepad gekies het.

“My lewe van agt jaar in Irak was veiliger as hier in Suid-Afrika,” het mnr. Danie Prinsloo (38), ’n voormalige polisiebeampte en een van dié pa’s, gesê.

Me. Yolandie Swanepoel (28) het eergisteroggend R1 200 vir kruideniersware gaan trek en toe kort voor 07:00 met haar drie dogters – Charlene (11), Alicia (9) en Shaina (5) – voor die hek van die Laerskool Ebenhaeser stilgehou.

Charlene moes vroeg by die skool wees om padpatrolliediens te doen.

“Ek het nog in die motor gesit en met Alicia gepraat voordat sy by die skoolterrein sou ingaan toe ek drie mans oorkant die straat sien stap. Een van die mans het die pad skielik oorgesteek en ’n pistool voor onder sy baadjie uitgehaal en op my gerig.”

Sy het die rowers gesmeek om “te vat wat hulle wil hê”, maar haar dogter te laat gaan.

Charlene het na die skoolhek gehardloop en geskreeu: “Ma! Ma!”

Die kapers het Swanepoel beveel om uit haar splinternuwe swart Toyota Yaris te klim. Een van hulle het haar aan die arm gepluk en agterin die motor gestamp. Hulle het toe met haar in die motor in die rigting van die Oatlands-hoewes, wes van Krugersdorp, gejaag.

Prinsloo het sy seun, Duncan (11), pas by die skool afgelaai toe hy van die kaping hoor. Hy en nog ’n ouer, net bekend as Herman, het in sy Opel Monza gespring.

Hulle het die Yaris vier strate verder opgemerk en Prinsloo het die petrolpedaal net dieper ingetrap.

“Hulle (die rowers) het baie verbouereerd geraak en hiernatoe en daarnatoe oor die pad beweeg,” het Prinsloo vertel.

Die rowers het in Cruzstraat duskant Robert Broomrylaan links na Munsie-ville ingeswaai. “Hulle het baie draaie gery en toe ewe skielik stilgehou en na plakkershutte toe gehardloop,” het Prinsloo gesê.

Swanepoel het ongedeerd uit haar motor geklim. Sy is wel haar handsak met persoonlike dokumente, waaronder kontant, bank- en kredietkaarte, kwyt.

’n Ander skoolma en veiligheidsbeampte van Thompson-sekuriteit het Prinsloo kom ondersteun.

“Ons het die polisie gebel, maar hulle het ’n verkeerde adres ontvang. As hulle (die polisie) dalk vinniger daar kon wees, kon ons hulle dalk nog vastrek,” het Prinsloo gesê.

Swanepoel, ’n persoonlike assistent by ’n staalfabriek, het ná haar nare ervaring ’n waarskuwing aan ander ouers: “Ouers moet meer oplettend wees en hulle vergewis van voetgangers wat in die omgewing van skoolhekke rondbeweeg wanneer hulle kinders by die skool aflaai.”

Dié kaping was die tweede geweldsmisdaad wat hul gesin binne ’n maand getref het. Haar lewensmaat, mnr. Johan Henderson (36), is ’n paar weke gelede by ’n KFC-wegneemeetplek beroof.

Prinsloo het gesê as hy weer in so ’n situasie beland, sal hy dieselfde doen.

“As ek iemand kan help, hoekom nie? Dit kon my vrou ook gewees het.”

Die rowers is steeds soek.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2473647,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.