Wednesday, 18 February 2009

Man en sy hond getref toe boef by deur instap

Feb 17 2009 09:03:12:143PM - (SA)

Aletta Otto

Middelburg. – ’n Man is in die skouer gewond en sy hond skrams in die gesig geskiet nadat hulle eergisteraand op hul kleinhoewe hier aangeval is.

Mnr. Dirbus Venter (39) is in die Life Health Midmed-hospitaal opgeneem en gistermiddag laat geopereer om die koeëlpunt uit sy skouer te verwyder.

Sy vrou, mev. Danita Venter (37), sê hulle was Maandag omstreeks 23:00 in die kombuis besig toe ’n onbekende man skielik by die agterdeur ingestap het.

“Hy het net doodstil gestaan en vir ons gekyk. Toe my rottweiler, Os, die kombuis binnekom, het die man groot geskrik.

“Hy het ’n .38 Special uitgehaal en op Os geskiet. Die koeël het hom skrams in die gesig getref. Dit was gelukkig net ’n velwond,” het mev. Venter vertel.

Die man het die vuurwapen op mev. Venter gerig, waarop mnr. Venter op hom afgestorm het.

Die man het ’n skoot afgevuur en Venter in die skouer getref, maar Venter het nogtans daarin geslaag om die man by die agterdeur uit te druk en die deur toe te druk.

“Ek het in daardie stadium vir Danita geskree om my pistool te gaan haal. Sy het dit vir my gebring en ek het ’n paar waarskuwingskote deur die deur gevuur,” het mnr. Venter vertel.

Die egpaar het saam met hul seuns, DJ (17), Charles (16) en Daniël (13), in die gang gaan sit omdat mnr. Venter nog beweging buite gesien het.

Die seuns was in hul onderskeie kamers toe die skote afgevuur is.

Mev. Venter het die bure gebel en hulle het die polisie ontbied.

Nog geen verdagtes is in hegtenis geneem nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2471543,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.