Wednesday, 11 February 2009

Man erken glo sy ma sit agter moord

Feb 10 2009 07:58:12:400PM - (SA)

Herman Scholtz

Sy ma het hom beveel om twee mans te kry om mev. Susan Vermaak (63) te vermoor.

So het mnr. Samuel Maloka (24) glo aan mnr. Abraham Mphela, voormalige kêrel van me. Don Mashadi Maloka (46), in die aanhoudingselle beken.

Mphela het gister in die Pretoriase hooggeregshof getuig in die moord-en-roofverhoor van dié huiswerker en haar seun.

Luidens die klagstaat het die ma en seun saamgesweer om Vermaak op 18 Desember 2006 in haar huis in Brooklyn, Pretoria, te vermoor.

’n Wit plastieksak is om haar nek vasgebind en sy is in die bors gesteek.

Mnr. en me. Maloka het na bewering R75 000 kontant, selfone en verskeie stukke elektroniese toerusting uit die huis gesteel nadat hulle haar vermoor het.

Mphela is aanvanklik ook in April 2007 weens die moord in hegtenis geneem.

Hy het destyds ’n sel met mnr. Maloka gedeel.

Mphela het intussen ’n staatsgetuie geword.

Volgens hom het hy en mnr. Maloka ’n onderonsie gehad voor hul eerste verskyning in die landdroshof aangesien mnr. Maloka aan hom erken het sy ma sit agter die moord op Vermaak.

Mnr. Maloka sou ook aan hom gesê het dat hy ene “Tefu” en “Sipho” gewerf het om “die werk te doen”.

“Ons het tot in die hof gebaklei oor hoekom Tefu en Sipho nie deel is van die saak nie . . . Don het my ook gevra waarom ek vir mnr. Vermaak van die juwele gesê het.”

Mphela het ’n paar dae ná die moord eintlik reeds die misdaad oopgevlek toe me. Maloka juwele wat aan Vermaak behoort het, aan sy suster as ’n Kersgeskenk gegee het.

“Ek het haar gevra waar sy die juwele gekry het.

“Dis toe dat sy gedreig het om mense opdrag te gee om my dood te maak as ek probleme veroorsaak,” het Mphela getuig.

Mphela het die volgende dag mnr. Henry Vermaak, sy werkgewer, van die juwele vertel en dit het gelei tot verdere ondersoeke deur die polisie.

Mphela werk reeds die afgelope 12 tot 13 jaar vir mnr. Vermaak by een van sy sakeondernemings en ook as ’n nutsman.

Hy is steeds in mnr. Vermaak se diens.

Die verhoor duur voort.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2467597,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.