Sunday, 8 February 2009

Man oorleef rooftog danksy leë handwapen

Feb 06 2009 10:24:57:233PM - (SA)

Carina van Wyk

As daar gister patrone in die pistool was wat die rower teen sy bors gehou het, was hy dalk nou dood.

Mnr. Isak Verster (65) van Van Riebeeckpark, Kempton Park, het gras gesny toe hy omstreeks 11:45 ’n klop op sy skouer voel.

Hy het gedink dis iemand wat hy ken. Die volgende oomblik het ’n rower hom egter met ’n 9 mm-pistool oor die kop geslaan.

Die rower en twee van sy makkers het hom oorval. In ’n sta-dium het een van hulle ’n vuurwapen teen sy bors gedruk en die sneller getrek. “Maar hoe meer hulle snellers trek, hoe minder gaan die skote af,” het Verster vertel.

Die rowers het hom in die huis ingeneem en glo sy hande en voete vasgemaak, sy mond oopgemaak en skoenveters deur sy oop mond om sy kop vasgebind. Hulle het die Versters se huiswerker, me. Mansey Matwarro (38), en tuinwerker, mnr. Joseph Chwene (24), ook oorval, aangerand en vasgebind.

Volgens Verster het die rowers Matwarro later losgemaak “en toe moet sy vir hulle wys (waar Verster se geweer is) terwyl ek bloei”. Toe hulle sien dis ’n windbuks, het hulle glo vir hom gesê hulle is op soek na handwapens. Daar was nie handwapens in die huis nie. Die rowers het met onder meer juweliersware, ’n selfoon en ’n skootrekenaar in Verster se Hyundai Tucson laat spaander. Die motor is ’n uur en ’n half later deur middel van ’n Tracker-opsporingstelsel in Alexandra gevind.

Verster het ’n oop wond aan sy kop gehad waar hy moes steke kry en ook snymerke aan sy bene. Chwene, wat volgens Verster ’n “bietjie gehuil en gestres” het, is vir skok behandel. Matwarro se been – wat vroeër in ’n motorongeluk beseer is – het weer seergekry toe die rowers haar geskop het.

Mnr. Lesiba Manamela, polisiewoordvoerder, kon nie teen druktyd die voorval bevestig nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2465848,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.