Thursday, 12 February 2009

Man sterf ná rowerskoot van agter

Feb 12 2009 08:16:37:107AM - (SA)

Mia Willemse

’n Maand en ’n half nadat rowers ’n Pretoriase man van agter geskiet het, is hy vandeesweek in die hospitaal dood.

Mnr. Wayne Lloyd (50) van Pretoria Tuine is eergister in die Eugène Marais-hospitaal dood nadat sy toestand byna twee weke gelede erg versleg het.

Lloyd is op 28 Desember in sy rug geskiet. Die koeël het sy milt en maag deurboor.

Hy was die tegniese bestuurder van Advanced Marking Systems (AMS) in Honeydew aan die Wes-Rand.

Me. Janeke Botha (20), sy stiefdogter, het gesê die rowers het diefwering gebreek om in te kom.

“My pa het wakker geword toe hulle by die slaapkamer inkom en toe skiet hulle hom van agter af.”

Lloyd het inmekaargesak. Sy vrou, Janet, het met hom na die hospitaal gejaag.

“Hy was twee weke in die hospitaal, maar is huis toe gestuur omdat sy wonde nie so ernstig gelyk het nie,” het Botha gesê.

Lloyd word oormôre om 09:30 vanuit die AGS kerk Gezina in Pretoria begrawe. Hy word ook deur sy sewe kinders oorleef.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2468591,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.