Sunday, 8 February 2009

‘’n Glimlag op haar gesig’

Feb 06 2009 09:29:22:280PM - (SA)

Herman Scholtz

’n Tweede getuie het gister vertel mev. Susan Vermaak (63) se huiswerker, ’n beskuldigde, het kort ná haar moord geglimlag.

Me. Don Mashadi Maloka (46) en haar seun, Samuel (24), staan in die Pretoriase hooggeregshof tereg op aanklagte van moord en roof.

Mnr. Henry Vermaak (70) het gister getuig hy het die aand van 18 Desember by hul huis in Brooklyn, Pretoria, aangekom en heeltyd sy vrou se naam geroep terwyl hy deur die drie verdiepings van die huis gehardloop het om haar te soek.

“Toe ek vanaf die motorhuis by die kombuis inkom en die geel tou daar sien lê, het ek geweet iets is fout.”

Hy het sy pistool en gelaaide magasyn in sy motor gaan haal en die honde nader geroep om saam met hom deur die huis te gaan.

Mnr. Vermaak het gesê hy het me. Maloka in ’n kamer op die onderste verdieping van die huis aangetref.

Sy was teen ’n los staander vasgebind wat vir konstruksiewerk gebruik word. Die staander, wat as bewysstuk ingedien is, weeg volgens mnr. Vermaak tussen 5 kg en 6 kg.

“(Die toue) was beslis nie vas nie.

“Haar bene was uitgestrek. Sy het plat op die vloer gesit met haar rug teen die staander. Sy het ’n vuil lap van T-hemp-materiaal oor haar mond gehad. Dit het slap gehang.

“Ek het die lap net laat afval en gevra: ‘Where is the madam?’ ”

“Upstairs, upstairs,” het me. Maloka geantwoord.

Mnr. Vermaak het weer na die boonste verdiepings gehardloop, maar kon sy vrou steeds nie kry nie.

Hy het vroeër in die kantoor op een van die boonste verdiepings gesien die kluis se deure is oop, maar het nie ingegaan nie.

“My vrou het agter die (kantoor-) deur gelê. Sy was plat op haar rug met ’n plastieksak oor haar kop wat vasgebind was.

“Ek het afgebuk en aan haar arm gevat en gevoel sy’s yskoud. Sy moes al ’n geruime tyd dood gewees het.”

Mnr. Vermaak het die plastieksak opgeskuif en die tou om haar nek wat diep ingesny het, losgemaak.

“Daar was bloed op haar linkerbors met twee of drie gate in die materiaal. Daar het ’n knipmes langs haar gelê.”

Hy het die enkele knoop van die toue waarmee me. Maloka vasgebind was, gaan losmaak en weer opgehardloop na sy vrou se lyk.

“Toe ek terugkom, het beskuldigde een (me. Maloka) in die sitkamer gestaan met haar een hand op die stoelleuning en die ander in haar sy. Daar was ’n glimlag op haar gesig.”

Insp. André Wouter Pienaar van die Brooklyn-polisiekantoor het eergister getuig me. Maloka het geglimlag toe sy polisieverklarings afgelê het.

Die verhoor gaan oormôre voort.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2465763,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.