Monday, 23 February 2009

Ontvoerslagoffer 'baie emosioneel'

Feb 22 2009 10:08:24:217PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Vrou van Bronkhorstspruit, oos van Pretoria, wat verlede week glo deur haar tuinier en dié se makker ontvoer, aangerand en geskiet is, het ’n terugslag gehad nadat daar vog op haar longe ontstaan het.

Mev. Anna Jacoba Myburgh (55), wat tans in die Pretoria-Oos-hospitaal vir haar beserings en skietwond behandel word, se seun, Henk (30), het gesê sy ma is sedert eergister aan ’n longmasjien gekoppel. “Die dokters is bekommerd oor haar. Sy is baie emosioneel en gee nie meer haar samewerking nie. Daar sit nog stukkies van die koeël in my ma se kop naby haar brein, maar dokters sê hulle gaan dit nie verwyder nie omdat dit nie lewensgevaarlik is nie.”

Hy het gesê sielkundiges besoek sy ma en probeer met haar praat oor dinge wat haar gelukkig maak om haar weer positief te kry.

Die toestand van sy vrou, Edri (26), wat aangerand en in die mond geskiet is, is besig om te verbeter. Die derde vrou, mev. Paulina Moyana (26), wat saam met die twee vroue ontvoer is, was teen Vrydag nog in die Steve Biko-hospitaal. Sy is verlam in die onderlyf nadat die rowers met haar in mev. Myburgh jr. se motor ’n ongeluk gemaak het.

Kapt. Simon Petrus Mashiloane, polisiewoordvoerder, het gesê twee verdagtes, mnre. Daniel Mo-swarateu (22), die tuinier, en Helton Matsimela (27) het Vrydag in die hof op Bronkhorstspruit verskyn op aanklagte van onder meer poging tot moord, ontvoering, aanranding en die besit van ’n gesteelde vuurwapen. Die saak is tot 5 Maart uitgestel.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2474371,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.