Thursday, 19 February 2009

Plaaswerker red straks 2 oues se lewe

Feb 18 2009 09:17:06:977PM - (SA)

Willem Pelser en Nicolize van der Walt

’n Plaaswerker het waarskynlik ’n bejaarde boer en sy vrou se lewe gered nadat ’n blouligbende hulle gisteroggend op hul plaas tussen Koster en Lichtenburg in Noordwes aangeval het.

Die bende was baie aggressief en het die boer, mnr. Willie Meyer (80), se kop met ’n pistoolkolf “stukkend geslaan”, het sy vrou, Martie (70), vertel.

Hulle het ook in ’n stadium ’n pistool oorgehaal en teen mev. Meyer se kop gedruk.

Ses rowers het omstreeks 09:00 by die plaashuis opgedaag in ’n voertuig met ’n blou lig op die dak, het insp. Carina Fourie, polisiewoordvoerder, gesê.

Hulle het voorgegee hulle is speurders wat ’n veediefstalsaak ondersoek, het mev. Meyer gesê.

Haar man het die “speurders” gevra om eers buite die huis te wag, maar hulle het skielik by die huis ingestorm en hom aan die arm beetgekry.

Die rowers het hom op die vloer neergegooi en met ’n pistoolkolf teen die kop geslaan, het sy vrou vertel.

Toe sy sien wat aangaan, het mev. Meyer “verskriklik begin gil”. Die rowers het haar mond toegedruk, ’n pistool oorgehaal en dit teen haar voorkop gedruk.

Die rowers het die egpaar beveel om in die kombuis op stoele te gaan sit terwyl hulle die huis deurgesoek het.

“Hulle het heeltyd hul pistole teen ons koppe gehou,” het mev. Meyer vertel. Die bende wou wapens en geld hê, maar kon nie die vuurwapens kry wat in die huis was nie.

’n Plaaswerker, wie se identiteit voorlopig weerhou word, het mnr. Flip Venter, wat ’n deel van die plaas huur, gaan roep, het Fourie gesê. Venter was in ’n stoor ’n ent van die plaashuis doenig.

Toe die rowers hom sien aankom, het hulle met mnr. Meyer se selfoon en trouring gevlug. Buite die huis het een van die booswigte ’n skoot in Venter se rigting geskiet en hom gemis.

Toe hy ’n tweede skoot wou skiet, het Venter die wapen uit sy hand geklap, het mev. Meyer vertel. ’n Stoeiery met een van die rowers het gevolg. Van sy makkers het daarna nog twee skote op Venter geskiet, maar hy is nie getref nie.

Al ses die rowers het in die voertuig met die blou lig weggejaag. Volgens mev. Meyer het al die rowers pistole by hulle gehad en hulle was in burgerdrag geklee.

Fourie het gesê mnr. Meyer kon nie presies sê watter soort voertuig die rowers gebruik het of wat die registrasienommer is nie. Hy weet net dit was ’n “donkergroen voertuig”.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2472220,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.