Wednesday, 25 February 2009

Polisieman geskiet tydens kaping by sy huis

Feb 24 2009 09:41:11:053PM - (SA)

’n Oos-Randse polisiebeampte is in ’n ernstige toestand nadat hy eergisteraand tydens ’n kaping by sy huis geskiet is.

Sr.supt. Johan Roos van die Springs-polisie was glo van diens af toe vier verdagtes hom omstreeks 19:30 by sy huis in Petersfield oorrompel het.

Kapt. Johannes Ramphora, polisiewoordvoerder, het gesê die kapers het glo in ’n wit BMW agter Roos se VW Polo stilgehou.

“Roos is in sy linkerbolyf geskiet en sy voertuig is geroof.”

Die kapers het daarna gevlug.

“Die Polo is later verlate op die hoek van Oos-Geduld- en Vaalstraat gevind met die sleutels nog daarin.”

Roos is per helikopter na die Glynnwood-hospitaal in Benoni geneem.

Me. Berdy-Ann Schouten, hospitaalwoordvoerder, het gister bevestig dat Roos in ’n ernstige, maar bestendige toestand is. – Gloria Edwards

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2475551,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.