Tuesday, 17 February 2009

Rowers skiet hul slagoffers se buurman

Feb 16 2009 09:33:16PM - (SA)

Die polisie in Middelburg in Mpumalanga soek na ’n roofbende wat ’n man Vrydagaand in sy huis doodgeskiet het terwyl hy skynbaar televisie gekyk het.

Terwyl mnr. Grahame Adams (51) vermoor is, het lede van dieselfde bende Adams se bure enkele meter daarvandaan beroof.

Volgens insp. Lizé Coetzee, polisiewoordvoerder, is Adams deur die sitkamervenster geskiet en in sy regtersy getref. Hy is op slag dood.

Drie lede van dieselfde moordbende het mnr. James Fletcher (35) en sy gesin toe ook in hul huis aangehou.

Hulle het die egpaar en hul drie kinders vasgebind en geld en vuurwapens geëis.

In ’n stadium het die Fletchers ’n skoot hoor klap. “Daar was ’n gegil en die rowers het op die vlug geslaan,” sê Coetzee.

Die aanval het Vrydag omstreeks 23:00 op die Koelenhofkleinhoewes 20 km buite Middelburg gebeur.

“Ons vermoed mnr. Adams het die geraas by die Fletchers gehoor terwyl hy televisie gekyk het. Toe hy opstaan om ondersoek in te stel, is hy geskiet,” sê Coetzee. – Buks Viljoen

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2470930,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.