Wednesday, 25 February 2009

Taxibestuurder het my gejaag, erg op my gegil

Feb 24 2009 05:51:26:240PM - (SA)

Ek wil nie graag onder my volle naam skryf nie, want ’n mens weet nooit wat met iemand kan gebeur nie. Ek het vanoggend die berig van die meisie gelees wat doodgery is.

Dit het amper met my ook gebeur. Ek is 22 jaar oud en het met my motor van die Tzaneen-pad af gekom in Polokwane in. Daar was ’n taxi agter my, maar ek het duidelik vir hom te stadig gery en hy het die toeter gedruk en ligte gewys.

Ek kon nie opskuif nie, en toe ek uiteindelik kon padgee, is daai taxibestuurder woedend. Hy het op my geskreeu en my van die pad af probeer druk.

Ek was so angsbevange dat ek begin huil het en vir hom geskreeu het “ek’s jammer” .

Die ergste van als was dat die taxi vol mense was en niemand het hom eens probeer stop nie. Ek moes tot oor ’n rooi verkeerslig jaag om van die taxi af weg te kom maar hy’t aangehou kom.

Hy het my eers uitgelos nadat ek in die dorp ingegaan het. Tot vandag toe is ek bang as ek verby ’n wit taxi ry, want ek hoop en bid dat hy my motor vergeet het.

Die rede vir my brief is dat ek hoop iets word gedoen aan hierdie saak van die meisie wat doodgery is, want niemand mag wegkom met dit nie.

Ek is maar skrikkerig oor watse inligting ’n mens gee, net nou kry iemand my adres of iets in die hande.

Marlize, Polokwane

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Opinie/Briewe/0,,3-2085-73_2475425,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.