Wednesday, 25 February 2009

Tuinier se vriendin (16) ook aangekeer vir moord

Mnr. Franklin Stuurman (26) op pad na die landdroshof in Humansdorp waar hy vlugtig verskyn het. Foto: Werner Hills

Clarissa Venter

Port Elizabeth

23/02/2009 11:16:28 PM - (SA)

Die verdagte wat na bewering ’n vooraanstaande sakevrou van Jeffreysbaai vermoor het, se minderjarige vriendin is ook as ’n moontlike medepligtige in die saak aangekeer.

Mnr. Franklin Stuurman (26) is Vrydagaand op die moord­toneel aangekeer ná die dood van me. Cecile Potgieter (52).

Sy vriendin (16) is Sondagaand in hegtenis geneem.

Stuurman, wat ook Potgieter se tuinwerker en die seun van haar huiswerker is, het gister vlugtig in die hof verskyn.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 3 Maart uitgestel wanneer hy waarskynlik om borgtog aansoek sal doen.

Supt. PJ Smit van Jeffreysbaai het gesê Stuurman se ma is gister vir ondervraging ingeroep.

“Sy is egter nié ’n verdagte nie. Ons wou net ’n verklaring by haar neem,” het Smit gesê.

Volgens supt. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, lyk dit of Stuurman Vrydagoggend ná 10:00 toegang tot Potgieter se huis in Gazellestraat verkry het.

Die polisie vermoed Potgieter het die veiligheidshek vir Stuurman oopgemaak, waarna ’n struweling buite die huis ontstaan het.

Hierna het hy haar vermoedelik die huis ingesleep, maar sy kon daarin slaag om die noodknoppie te druk.

Sy is met ’n skerp voorwerp oor die kop geslaan en verskeie kere met ’n mes gesteek. Haar bebloede liggaam is later in die sitkamer aangetref.

Naidu het gesê die speurders het omstreeks 19:00 op Stuurman afgekom nadat hulle in die dak geklim het om verdere ondersoek in te stel. Stuurman is daar aangetref. Hy het die vermeende moordwapen by hom gehad, asook Potgieter se skootrekenaar en ander besittings.

Potgieter was die eienaar van die Pertiwi-galery, met kantore in Jeffreysbaai en Humansdorp. ’n Vriendin, me. Ellen Hancke, het gesê sy hou nou die fort by die galery in Humansdorp.

“Ons probeer maar rustig bly. Franklin, is eintlik ’n gekwalifiseerde skrynwerker, maar het nie werk gehad nie. Hy het af en toe in ons tuine gewerk terwyl sy ma in die huise werk.”

Die bestuurder van die Jeffreysbaaise Sakeforum, mnr. Jannie Kriege, het die voorval as bitter tragies en skokkend bestempel. “Dit is regtig jammer dat ’n mens in die sakegemeenskap so onnatuurlik uit die lewe geruk word,” het Kriege gesê

’n Gedenkdiens vind Vrydag om 11:00 vanuit die NG Kerk-Oos in Humansdorp plaas.

Oorsprong:Die Burger
http://www.dieburger.com/Stories/Streek/OosKaap/19.0.1324308605.aspx

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.