Saturday, 21 February 2009

Vier vas wat ‘verwurg, beroof’

Feb 20 2009 09:13:26:023PM - (SA)

Willem Pelser

Louis Trichardt. – Vier vermeende moordenaars van ’n voormalige burgemeestersvrou verskyn oormôre in die hof hier nadat hulle eergisteraand enkele ure ná die moord vasgetrek is.

Hulle is in ’n bakkie by ’n polisie-padversperring by Polokwane voorgekeer. Die bestuurder het weggejaag, maar is ná ’n jaagtog aangekeer, het kapt. Maano Sadike, polisiewoordvoerder, gesê.

Die polisie soek nog na ’n vyfde verdagte.

’n Emosionele me. Susaar Schlesinger, mev. Tienie Botha (78) se een dogter, het gister in trane gesê sy is “absoluut verheug” oor die inhegtenisnemings.

“Ek het so hard gebid daar moet gou ’n arrestasie wees om te keer dat hulle nie aan nog ’n bejaarde doen wat hulle aan my ma gedoen het nie.”

Schlesinger het gesê sy gaan die verdagtes se hofverskyning oormôre bywoon, want sy wil vir hulle sê: “Mag God julle vergewe.”

Botha se naakte lyk is Donderdag in ’n laken toegedraai in die sitkamer van haar huis gekry. Sy is verwurg en het kneusplekke in haar gesig gehad.

Meer besonderhede oor wat die oggend van die moord gebeur het, het gister aan die lig gekom. Volgens Schlesinger is dit duidelik haar ma het verwoed teruggeveg toe sy oorval is.

“Van die meubels in die huis was heeltemal uit hul plek. Dit verbaas my nie. My ma sou teruggeveg het, want sy was ’n sterk vrou.”

Volgens Schlesinger is “inbraaktekens”, waaronder gebuigde draad in die vorm van ’n perdeskoen, teen die erf se heining gekry.

’n Kenner het gister vir haar en die familie gesê die tekens wat daar was, beteken die huis is “gereed” vir ’n inbraak en min weerstand kan verwag word.

Volgens Sadike is duur juwele, klere en vyf vuurwapens wat by Botha geroof is, eergisteraand met die arrestasies in die bakkie gekry.

’n Konvooi polisievoertuie en swaar gewapende polisiebeamptes het die vier gister na Louis Trichardt gebring.

’n Bron na aan die Botha-familie het gesê volgens onbevestigde inligting is twee van die verdagtes van Zimbabwe. Hul ouderdomme wissel tussen 26 en 32.

Botha word Donderdag 26 Februarie om 11:00 uit die Afrikaanse Protestantse Kerk in Piet Mollerstraat begrawe.

Mnr. Dirk Meissenheimer, voorsitter van die Louis Trichardt-dorpswag, het die polisie geloof vir hul “uiters deeglike ondersoekwerk” in die saak.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2473636,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.