Thursday, 19 March 2009

5 bly in aanhouding ná dood

Mar 18 2009 08:19:56:847PM - (SA)

Die vermeende moordenaars van ’n bekende bejaarde inwoner van Louis Trichardt is steeds agter tralies.

Die vyf mans het gister vlugtig in die Louis Trichardt-landdroshof verskyn weens die moord in Februarie op mev. Tienie Botha (78), ’n oud-burgemeestersvrou.

Mnre. Thobeli Jili (25) van Alexandra en Immanuel Thabosita (36) van Johannesburg het gister saam met drie mans van die Louis Trichardt-omgewing, mnre. Thomas Ramudzuli (40), Rudzani Mufumadi (29) en David Lehaiwa (30), op aanklagte van moord, roof en huisbraak verskyn.

Botha is vermoedelik vroegoggend in haar huis oorval en glo verwurg. Sy het ook kneusplekke in haar gesig gehad. Die meubels in haar huis was rondgeskuif en dit het gelyk of sy teruggeveg het.

Juwele, vyf vuurwapens en klere is gesteel.

Die verdagtes bly in aanhouding en sal op 5 Mei om borgtog aansoek doen. – Marietie Louw-Carstens

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2487821,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.