Wednesday, 25 March 2009

5 vas oor aanval op boer en sy hond

Mar 23 2009 08:40:19:423PM - (SA)

Carla van Niekerk

Vyf verdagtes in ’n plaasaanval verlede jaar naby Wolmaransstad in Noordwes waartydens ’n boer en sy hond in die kop geskiet is, is vasgetrek.

Die boer én sy hond het oorleef.

Mnr. Chris Nel (57), ’n boer in die omgewing van Gloudina, is op 27 November geskiet toe hy by die huis aangekom het ná ’n besoek aan vriende.

Nel het gesê die vyf mans het hom met sy eie wapen buite sy huis ingewag. Hulle het vermoedelik reeds by sy huis ingebreek terwyl hy by die vriende gekuier het. “Ek was besig om die kombuisdeur oop te sluit toe hulle my met my eie pistool skiet.”

Die koeël het bo sy linkeroog ingegaan en by sy agterkop uitgekom. “Ek het so twee uur daar gelê en toe my bewussyn herwin. Hulle het ook ’n piksteel op my stukkend geslaan. Ons boere chop teen ’n tempo af.”

Nel was intussen lank in die Unitas-hospitaal in Centurion.

“Hulle het plate in my kop gesit. Ek is net baie moeg, maar ek en my boelhond loop albei weer op die werf rond.”

’n Familielid van Nel het ’n private speurder aangestel terwyl hy in die hospitaal was. Mnr. Wayne Botha van EWB Investigations sê hy en mnr. Christian Botha van CBI In-vestigations het die saak verlede Maandag begin ondersoek.

Hulle is op die regte spoor gesit deur ’n man wat vroeër ’n tjek van Nel in Ottosdal wou wissel.

Nel sê die aanvallers het dié tjek, wat vir R150 aan Woolworths uitgemaak was, vermoedelik tydens die aanval uit sy huis gesteel en dit verander.

“Hulle het die bedrag van R150 na R6 900 verander. Die bank het my gebel. Ek het vir hulle gesê ek het nie die tjek uitgeskryf nie.”

Die aanvallers het dié tjek vermoedelik aan iemand anders gegee om te gaan wissel, sê Botha. Dié man is in hegtenis geneem toe die tjekbedrog aan die lig gekom het.

Hy het glo gesê die mans wat die tjek aan hom gegee het, het vertel hulle het ’n “wit vark doodgeskiet en sy wapens gesteel”.

Dié man, wat nie met die aanval verbind word nie, het Botha-hulle op die aanvallers se spoor gesit, waarna hulle in hegtenis geneem is.

Supt. Lesego Metsi, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes sal na verwagting vandag in die hof in Leeudoringstad verskyn op aanklagte van huisbraak en aanranding.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2490420,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.