Saturday, 14 March 2009

Apteker in 6de aanval op hom doodgeskiet

Mar 12 2009 07:46:22:130PM - (SA)

Daniel Maluleke

Die apteker wat eergister in ’n rooftog in sy apteek in Edenvale aan die Oos-Rand doodgeskiet is, het vyf soortgelyke voorvalle oorleef.

In een van dié voorvalle, in Oktober 2007, het rowers mnr. Rob Taylor met ’n pistool op die ken geslaan voordat hulle geld en goedere geroof het. Woensdag het rowers hom egter sonder meer doodgeskiet, skaars twee maande nadat sy vrou, Linda, haar pa aan kanker verloor het.

Die bende gewapende rowers het die Edenvale-apteek in Van Riebeecklaan die middag omstreeks 13:00 binnegestorm en almal aangesê om tjoepstil te bly, het me. Jessica Edgecomb gesê. Sy werk die afgelope vyf jaar as assistent daar.

Hulle het Taylor (53) na sy kantoor gevat waar hulle op die kluissleutel aangedring het.

“Hy het vir hulle gesê daar is nie geld in die kluis nie en die sleutel is in sy tas. Hy het ook gevra hulle moet asseblief niemand seermaak nie – hy sal vir hulle die geld in die kontantlaai gee, maar sonder om ’n woord te rep, het hulle ’n skoot afgevuur en hy is op slag dood.”

Volgens Edgecomb het die moordenaars met R2 000 wat op haar ma, Dee, se tafel was, gevlug. Edgecomb sr. werk al 11 jaar as ’n boekhouer in die apteek.

Me. Anna Maria Joubert, wat die afgelope 22 jaar as apteker vir Taylor gewerk het, het gesê sy is absoluut verpletter deur die voorval.

Benewens die werknemers was daar ook ses klante in die apteek. Almal het vir hul lewens gevrees, het sy gesê.

Me. Taylor het gesê: “Hy was die wonderlikste man, wonderlikste vriend en die wonderlikste werkgewer, en hy was vrygewig.”

Taylor het sy apteek in Edenvale 26 jaar gelede geopen.

Hy het 20 werknemers gehad. Dié by sy huis gister het hom groot lof toegeswaai en onder meer gesê hy het mense ongeag hul velkleur gehelp.

Hy laat ook sy ouers en ’n suster, Felicity, agter.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2484568,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.