Saturday, 7 March 2009

Geblaf van hondjie red vermoedelik twee se lewe toe rowers toeslaan

Mnr. Johan Janse van Vuuren met Gigsy, die Yorkshire-terriër wat hy meen sy en sy vriendin se lewe gered het. Foto: Sonja van Buul

Mar 05 2009 08:32:18:900PM - (SA)

Sonja van Buul

Vanderbijlpark. – ’n Drie maande oue Yorkshire-terriër se geblaf het waarskynlik hier die lewe van sy ounooi en haar vriend gered nadat drie gewapende rowers op hulle toegeslaan het.

“Gigsy was ’n bederfgeskenkie van my aan Yolanda en nou het hy heel waarskynlik ons lewens gered,” het mnr. Johan Janse van Vuuren (47) ná die aanval op hom en me. Yolanda Kourie (52) gesê.

Kourie is ongedeerd, maar haar vriend het ’n skietwond aan sy arm opgedoen.

Hulle was eergister kort voor middernag op die eerste verdieping van Kourie se huis.

“Gigsy het van die bed gespring en abnormaal begin blaf,” het Janse van Vuuren gister in sy hospitaalbed aan Beeld gesê.

“Ek het dadelik geweet iets is nie pluis nie.”

Volgens dié sakeman van Vanderbijlpark het die rowers op hom losgebrand toe hy verby die kamerdeur na sy 9 mm-pistool op ’n kanttafel hardloop.

Gigsy se waarskuwing het hom genoeg tyd gegee om by die vuurwapen te kom terwyl die rowers nog in die gang was.

“Ek het my handvuurwapen gegryp en agt skote in die rowers se rigting afgevuur voordat hulle by die trap af is.”

Volgens Janse van Vuuren het hy Kourie van die bed af grond toe geruk en “net om seker te maak” die magasyn leeg geskiet.

“Hulle het seker gedink ek is kort op hul hakke, want op die grondvloer het hulle weer geskiet.”

Die polisie en ER24-nooddienste was vinnig op die toneel.

Janse van Vuuren is na die Emfuleni-Medi-Clinic geneem waar hy gister geopereer is om die koeël uit sy arm te verwyder.

“Ek is seker ek het een of meer van hulle raakgeskiet, want daar is bloedspore in die kombuis en op ’n wit buitemuur,” het hy gesê.

Die rowers het met leë hande gevlug.

Volgens sr.supt. Sonja Slabbert, Janse van Vuuren se suster en bevelvoerder van die De Deur-polisiekantoor, het Gigsy se waarskuwing haar broer en sy vriendin se lewe gered.

“As my broer nie so gou opgespring en gereageer het nie . . . ek ys om te dink wat kon gebeur het.”

Die skietgeveg het baie skade in die huis aangerig. Janse van Vuuren raam dit op sowat R100 000. Meubels, ’n spieël en die mure is vol skietgate.

Volgens insp. Kinnie Steyn, polisiewoordvoerder, is die verdagtes nog nie in hegtenis geneem nie. ’n Klag van poging tot moord en poging tot huisroof word ondersoek.

Sy het enigiemand wat met die ondersoek kan help, gevra om insp. Francois Alberts by 0 016 910 9000 of 0 082 465 7255 te bel.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2480873,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.