Thursday, 5 March 2009

Gemeenskap ontstoke oor landdros weer borg toestaan

Mar 04 2009 09:47:23:553PM - (SA)

Linda de Beer

Die boeregemeenskap van Coligny werf handtekeninge vir ’n griefskrif teen die plaaslike landdros omdat die vermeende moordenaar van ’n boer wéér op borgtog uit is nadat hy reeds oor ’n aanval op dieselfde boer op borgtog uit was.

Landdros Wikus van Loggerenberg het verlede maand borgtog van R1 000 aan mnr. Samuel Mokgatle toegestaan.

Een medebeskuldigde, mnr. Patrick Matheadira Malebo, is op waarskuwing vrygelaat en ’n tweede, mnr. Sergio Mazibela, vermoedelik ’n Mosambiekse burger, het nie om borgtog gevra nie. Hulle moet weer op 23 Maart in die hof verskyn.

“Ek het my regterlike diskresie uitgeoefen en die bepalings van die Strafproseswet nagekom,” het Van Loggerenberg gister gesê oor sy besluit om borgtog toe te staan.

Volgens hom was die sake teen albei beskuldigdes “uiters swak” aangebied.

Die enigste borgtogvoorwaardes is dat die beskuldigdes nie met mev. Stander mag kontak maak of Leeupoort mag betree nie.

Mnr. Sias Stander (69) is in November verlede jaar, vier dae voordat hy teen die mans sou getuig, doodgeskiet in ’n nagtelike aanval op hom en sy vrou, Hannatjie (68), op hul plaas Leeupoort in Noordwes. Die egpaar het verbete teen hul aanvallers geveg. Stander is ook verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek.

Sy vrou is sowat 12 keer met ’n mes gesteek voordat sy met ’n .22-rewolwer op hul aanvallers losgebrand het. Een van hulle is in die bors getref en later sowat 100 m van die huis dood gekry.

Mokgatle is destyds op borgtog vrygelaat weens ’n aanval op Stander in Desember 2007. Hy is toe by sy skuur oorval en aangerand.

Die boer is vermoor vier dae voordat hy in dié saak teen Mokgatle sou getuig het.

Dr. Carel Stander, die vermoorde se oudste broer, het gesê hulle voel die aanklaer en die landdros het hulle in die steek gelaat.

Supt. Koos Degenaar, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het borgtog teengestaan.

Van die redes was dat plaasaanvalle ’n prioriteitsmisdaad is en omdat “veral Mokgatle positief met die misdaad verbind kon word”.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2480150,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.