Tuesday, 10 March 2009

Geskiet terwyl hy vleis braai

Mar 09 2009 08:48:20:097PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – ’n Man van dié stad is die naweek koelbloedig doodgeskiet terwyl hy op ’n plaas naby Modimolle (Nylstroom) in Limpopo tydens sy vrou se verjaardagviering vleis gebraai het.

Mnr. Hendrik Petrus Riaan van der Walt (44) is op slag dood waar hy langs die braaivleisvuur gestaan het.

Kapt. Malesela Mogale, die ondersoekbeampte, het gistermiddag gesê Van der Walt is met ’n .308-jaggeweer geskiet.

Die geweer is sowat drie weke gelede tydens ’n huisrooftog in Modimolle gesteel. Die polisie het die geweer ná die moord op die plaas gekry.

’n Onbekende aantal gewapende aanvallers het Vrydagaand uit die bosse op dié plaas op Van der Walt losgebrand en nog mense wat die geselligheid van sy vrou, Wilma, bygewoon het.

Die rede vir die aanval is onbekend, het supt. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder in Modimolle, gesê.

Ledwaba het gesê Van der Walt is op ’n kort afstand geskiet.

Volgens Mogale is Van der Walt in die linkerarm getref en is die koeël by sy bors uit.

“Sy linkerarm was in die lug. Van die ooggetuies sê hy het iets vasgehou wat hy gedrink het, maar ander sê sy hand was in die lug soos hy iets beduie het,” het Mogale gesê.

Beeld verneem die polisie het die spore van die aanvallers tot by die Phagameng-woongebied, buite Modimolle, gevolg.

Die spoor het hier doodgeloop en niemand is nog vasgetrek nie.

Die geselligheid was op ’n plaas in die Suikerfontein-gebied.

Dit is loopafstand van die Engen-motorhawe op die N1-hoofweg naby Kranskop. Die skietery was omstreeks 21:30.

Ledwaba het gesê die polisie ondersoek nog of die plaasbestuurder op die aanvallers teruggeskiet het.

Niemand anders is beseer nie.

’n Verslae mev. Marie van der Walt van Mokopane (Potgietersrus) het gesê dit lyk of haar seun op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was.

Sy het gesê haar skoondogter is uiters geskok.

Van der Walt se vrou was nie gister vir kommentaar beskikbaar nie. Hul huis in Suidstraat in dié stad was gister verlate. Sy vrou was by familie.

Me. Yolandé van der Walt, sy eksvrou, het gistermiddag gesê Van der Walt was ’n goeie man. “Hy was altyd daar vir sy medemens en het omgegee vir mense. Hy het dít nie verdien nie . . . ”

Hulle is in 2006 ná ’n huwelik van 20 jaar geskei. Hul dogter, Mari-Anka (19), is baie geskok oor haar pa se dood. “Sy het flou geword toe ek haar van sy dood gesê het,” het haar ma gesê.

’n Lykskouing word moontlik vandag gehou.

Hy het by Polokwane Smelters buite dié stad gewerk. Hy is in Oktober 2006 met sy tweede vrou, Wilma, getroud en hulle het nie saam kinders nie.

Nog geen begrafnisreëlings is getref nie.

Enigiemand met inligting kan Mogale by 082 565 8606 bel.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/Home/0,,3-975_moreStories,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.